Oppas op grondpaaie in donker

Dié paal het Vrydagaand regoor ’n grondpad buite Oudtshoorn gelê voordat dit deur ’n AfriForum-patrollie verwyder is. Foto verskaf

WEES versigtig op grondpaaie in die donker, sê Heinrich Bosman, bestuurslid van AfriForum Oudtshoorn.

Volgens Bosman het lede van ’n AfriForum-massapatrollie wat Vrydagaand (8 April) gehou is, op ’n paal afgekom wat dwarsoor ’n grondpad in die Moerasrivier-omgewing, tussen Volmoed en die Mosselbaaipad, geplaas is. “Dit kon erge nagevolge vir enige motoris ingehou het wat te vinnig in die donker daarop afgekom het,” sê hy.

Bosman sê lede van die patrollie het die paal uit die pad verwyder.

Volgens ao Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is die polisie na die toneel ontbied en ’n man in hegtenis geneem op ’n klagte van oproerigheid. (Deur Stefan Skapie Goosen)