Vrou eers later gevonnis vir besit van ongelisensieerde vuurwapen

Deur Garnett Wicomb
DIE vonnisoplegging van ’n vrou van Rose Valley wat skuldig bevind is op klagtes van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn Streekhof tot volgende maand uitgestel.

Leanté Gerber (26) het skuldig gepleit en in ’n pleitverduideliking erken dat sy verkeerd opgetree en gestraf kan word.

Sy is op 28 Desember verlede jaar in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n semi-outo­matiese Firestar-pistool en vyf patrone.

Volgens haar het sy die pistool en patrone vir iemand anders gehou en was sy daarvan bewus dat sy ’n lisensie vir ’n vuurwapen moet besit.

Gerber se borgtog en borgvoorwaardes is deur streeklanddros Ntsoki Moni verleng en die saak vir voorvonnis argumente en vonnis tot 13 September 2019 uitgestel.

Van haar borgvoorwaardes is dat sy nie Oudts­hoorn mag verlaat of van woonadres mag verander sonder die wete van die ondersoekbeampte nie.

Hyron Goulding is die aanklaer en adv Benito Metembo verskyn vir Gerber.