Johan Badenhorst (derde van links) en Nobert Coetzee (vierde van links) van Voetspore saam met munisipale amptenare van Ladismith. Foto: Deon Meyer
Deur Deon Meyer
DIE inwoners van Ladismith en omgewing was verlede week aangenaam verras toe hulle van seker die bekendste viertrekvoertuie in hul dorp gewaar het. Die nuus dat die alombekende Voetspore-Span van
Johan Badenhorst in die dorp is, het soos ’n veldbrand deur die dorp versprei. Die historiese Otto Hager-kerk het vinnig die versa-melpunt van nuuskieriges geword met vele selfoonkameras wat ingespan is.
Volgens die toerleier, Johan Badenhorst het hulle besluit om minder bekende dorpe te besoek en hul stories te vertel. Die toer het in die Kalahari en deur die Richtersveld en Namakwaland begin. Hulle het ook die Klein Karoo besoek.
Op ’n vraag aan Badenhorst waarmee hy homself op sulke reise besig hou, was sy antwoord: “Ek luister nie na die radio of audioboeke nie, maar probeer soveel as moontlik waarneem. Ons sorg dat ons goed slaap en daarvoor is ’n goeie kampbed noodsaaklik. Die wenresep is ’n tent op die voertuig se dak, matras en ’n goeie slaapsak. Hy vertel dat sy seun ook al saamgetoer het en waardevolle ondervinding opgedoen het.
Inwoners van Ladismith was dit eens dat die Voetspore-span, wat tyd ingeruim het vir ’n foto of twee, hul voete plat op die aarde het.