Man ontken hy het saamleefmaat en seun aan die brand gesteek

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van ’n man van Dysselsdorp wat daarvan aangekla word dat hy sy saamleefmaat en hul seuntjie aan die brand gesteek en die vrou later gesterf het, is in die Oudtshoorn Streekhof met die getuienis van die beskuldigde voortgesit.

Gert Malgas (35) staan tereg op ’n klagte van moord, drie klagtes van poging tot moord, brandstigting, intimidasie en regsverydeling.

Hy ontken dat hy die aand van 2 Januarie 2018 paraffien op sy saamleefmaat, Josephine Jacobs (37) gegooi en haar aan die brand gesteek het waar sy op ’n bed saam met hul seuntjie, Gerano, gelê het.
Malgas het Dinsdag getuig dat dit Jacobs se dogter, Patricia, was wat die brand gestig het.

Volgens hom het hy agter Jacobs se rug gelê toe sy paraffien op hulle gooi, ’n vuurhoutjie aansteek, en op hom gooi. Jacobs se 14-jarige seun, Johannes, was nie in die huis nie.

Hy het uitgehardloop en toe hy by die hekkie omkyk, gesien die huis brand. Die oorledene het toe ook uit die huis gekom en hy het die vlamme aan haar hare en klere met sy kaal hande geblus.

Sy het vreeslik geskree en hy is weer die huis binne om te soek na hul seuntjie, Gerano,

“Ek het nie die kind hoor skree nie en gedink hy is dood.”

Volgens hom is hy toe weg om hulp te gaan soek.

Hy het ontken dat Patricia toe by ’n buurvrou se huis gestaan het.

Hy het nie ’n selfoon gehad om die brandweer of ambulans te skakel nie, maar was by die bushalte toe hy eers die brandweer en daarna die ambulans sien verbyry.

Terwyl hy nog daar gesit het, het die twee noodvoertuie weer verbygery en het hy aangeneem dat Jacobs en hul seuntjie in die ambulans was.

Hy is toe na sy ma se huis waar hy haar vertel het wat gebeur het.“Ek was erg geskok en nadat ek ook met my broertjie gepraat het, het ek gaan slaap. Ek het sleg geslaap,” het hy getuig.

Die staatsaanklaer, Willem Vister, wou van Malgas weet waarom hy nie terug is na sy brandende huis om te sien wat die toestand van sy saamleefmaat en hul seuntjie was nie.

Malgas het voortgegaan om te ontken dat Jacobs se seun, Johannes, in die huis was.

“Ek sê onder eed vandag Johannes was nie in die huis nie. Ek het nie die huis aan die brand ge­steek nie en het nie ’n aandeel daaraan gehad nie,” het Malgas met sy regterhand in die lug gesweer. Hy het ook ontken dat hy Patricia met die dood gedreig en Johannes voorgesê het wat hy moet getuig.

Hy kon nie aan die staatsaanklaer verduidelik waarom hy self nie brandwonde aan sy hande op­gedoen het toe hy die vlamme op sy saamleefmaat geblus het nie. Hy het geantwoord dat sy hande net swart was omdat hy die vlamme vinnig geblus het.

Streeklanddros Ntsoki Moni wou van Malgas weet hoedat hy kon sien Johannes hardloop uit die huis terwyl hy vroeër getuig het dat hy nie daardie aand in die huis was nie.

“Hoe kan dit gebeur,” wou die landdros weet.

Die saak is na kruisondervraging van Malgas tot 4 September 2019 uitgestel nadat Malgas aangedui het hy wil getuies roep wat sy weergawe van die aand se gebeure kan staaf. Hy bly in aanhouding.