
Die 33-jarige vragmotorbestuurder wat na bewering in die botsing met die oorlede motorfietsryer, Jay-Dee Klue betrokke was, het verlede Woensdag na sy arrestasie in die hof verskyn op ’n klag van strafbare manslag. Borg van R500 is aan hom toegestaan en hy verskyn weer op 29 September in die hof.
Die botsing het verlede Dinsdagmiddag by die kruising van Rand- en Kerkstraat plaasgevind toe die vragmotorbestuurder na bewering die motorfiets getref het wat met Kerkstraat onderweg was. Klue is op die toneel oorlede. Sy pa, Rassie Klue, was kort na die botsing op die toneel en het gesê dat dit Jay-Dee se 23ste verjaarsdag was.
Die vragmotorbestuurder het na die botsing weggery, maar die voertuig is op beeldmateriaal van kameras in erwe in die straat opgeneem. Kort nadat daar op sosiale media berig is dat die vragmotor gesoek word, het die bestuurder hom by die Bongolethu-polisiestasie aangemeld waar hy in hegtenis geneem is.
Jay-Dee se roudiens vind vanoggend (Vrydag 29 Augustus) om 11:00 by die AGS Klein Karoo-gemeente plaas.
Intussen het Die Hoorn op versoek van inwoners van Randstraat ʼn navraag aan die munisipaliteit gestuur om te bepaal of die moontlikheid om ʼn vierrigting stopstraat by die kruising aan te bring, ondersoek sal word. Teen spertyd het die munisipaliteit nog nie op die navraag gereageer nie.
’n Inwoner wat naby die toneel woon, het Vrydag wel bevestig dat verkeersbeamptes verlede week die kruising besoek het. (HANNES VISSER)