Deur Liesel le Roux
’N BAIE suksesvolle musiekfees Saterdagaand in die Bongolethu Stadion op Oudtshoorn is ontsier deur enkele voorvalle waarin mense aangeval en beroof is.
Meer as 2 000 mense het die konsert, die DJ Sisow Birthday Celebration, met verskeie top-kunstenaars van elders bygewoon.
Talle inwoners van die Groter Oudtshoorn en besoekers uit die Suid-Kaap, elders uit die Wes-Kaap en ook uit die Oos-Kaap het na Oudtshoorn gereis om die konsert by te woon.
In een van die voorvalle Saterdagaand moes ’n sekuriteitswag steke ontvang nadat hy met ’n kierie teen die slaap geslaan is, terwyl ’n man in ’n ander voorval buite die stadion met ’n mes gesteek en van sy kamera beroof is.
Dié voorvalle het plaasgevind ten spyte van ’n groot polisieteenwoordigheid buite die stadion en streng sekuriteitsmaatreëls wat binne die stadion gegeld het.
Volgens lt Samuel Maksella van Metro City Sekuriteit, die sekuriteitsfirma wat deur die organiseerders aangestel is vir die vertoning, is een van hul sekuriteitswagte met ’n kierie aangeval toe hy mense probeer keer het wat klippe van buite die stadion na binne gegooi en agter die kleedkamer oor die stadionmuur geklim het.
Maksella sê die muur sal deur die munisipaliteit verhoog met word omdat dit nie baie hoog is nie en nie mense kan uithou nie
“Een van my mense, Daniel Orson, het gegaan om met die mense te praat wat klippe gegooi het, en is met ’n kierie teen die slaap geslaan.”
Orson moes hospitaal toe geneem word vir behandeling en steke. Hy sal eers teen volgende week weer kan terugkeer werk toe.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n man ook omstreeks 02:00 die Sondagoggend buite die stadion met ’n mes gesteek en van sy kamera ter waarde van R30 000 beroof. Die aanvaller se identiteit is onbekend.
• Sibusiso Appolis, woordvoerder van die DJ Sisow Birthday Celebration, het haar teleurstelling uitgespreek oor die enkele voorvalle te midde van ’n baie suksesvolle konsert.
“Ons het van ons kant af seker gemaak ons voldoen aan alle vereistes ten opsigte van sekuriteit en die drankwet.
“Ons het ook na middernag geen nuwe mense meer in die stadion toegelaat nie en moes as gevolg daarvan ’n paar honderd mense wegkeer.
“Ten spyte van al die voorkomende sekuriteitsmaatreëls het ons verneem dat daar voorvalle was waar mense buite die stadion en na die vertoning beroof is.
“Dit is nie aanvaarbaar nie. Mense, inwoners en besoekers, moet te alle tye verantwoordelik optree. Ons simpatiseer met die mense wat deur die enkele voorvalle geraak is.”
Sy het aangedui dat die groot musiekfees voortaan as jaarlikse gebeurtenis op Oudtshoorn sal plaasvind en dat die organiseerders ook jaarliks ’n bydrae sal lewer tot die gemeenskap.
Vanjaar sal skooluniforms vir behoeftige kinders soos deur skole geïdentifiseer aangekoop word.