Herwin jy jou rommel?

Deur Liesel le Roux

Deur Liesel le Roux

Nadat daar jare lank al ’n privaat-herwinningsdiens in Oudtshoorn is (berig op bl 7), weet baie inwoners klaarblyklik steeds nie daarvan nie.

En terwyl die munisipaliteit (nog) nie ’n herwinningsdiens lewer nie (dit is gelukkig deel van toe­koms­­planne), dra die privaat-diens by tot die vermindering van die hoeveelhede vullis wat op die stortingsterrein en elders in en om die dorp beland.

Herwinning is ’n praktiese manier waarop inwoners, skole en besighede kan help om die rommelprobleem op die dorp aan te spreek, en ’n praktiese manier waarop ons kan help, kan beïnvloed en kan beter maak.

Ons moet onsself afvra: Hoeveel van ons wat kla oor rommelstrooiery  doen self iets daaraan?

Die tyd het voorwaar gekom dat inwoners van die Groter Oudtshoorn inisiatief moet neem en betrokke moet raak waar hulle kan. Rommel is nie iemand anders of die munisipa­liteit se probleem nie. Dit raak almal, en elkeen kan iets daaraan doen.

• Daar was inwoners van die Gro­ter Oudtshoorn wat na die munisipale ver­kiesings van 2016 geglo het  pro-ble­me gaan met die swaai van ’n to­werstaf verdwyn. Die Hoorn het in die redakteursbrief van 4 Augustus 2016 gewaarsku dat ’n taai pad voor­lê en finansiële druk by die munisipaliteit asook jare se wanadmini­- ­strasie die bestuur van die dorp en aan­spreek van kwessies soos slaggate en vullis nie maklik gaan maak nie.

Inwoners ervaar tans dié opdraan- de stryd en hoe stadig die wiele van die staat draai – dikwels as ge­volg van administratiewe rompslomp en wetgewing. Dit verhinder ons egter nie om self ’n verskil te maak nie.
(Lees die redak­teursbrief van 4 Augustus 2016 by: http://argief.diehoorn.com/2016/08/04/redaksionele-kommentaar.)