Borgaansoek van MJ dalk vandag voor

Preston Titus-moordsaak

Deur Garnett Wicomb
Masimthembe January (23), een van die vyf verdagtes in die moordsaak van die soldaat, Preston Titus (49), verskyn weer vandag (Donderdag 24 Mei) in die Oudtshoorn Streekhof vir ’n moontlike borgaansoek.

Die saak teen January is verlede week uitge­stel omdat hy van regsverteenwoordiging verander het.

January, ook bekend as MJ, word saam met die oorledene se vrou, Magdaleen, (Maggie), haar vriendin, Natasha Stuurman, asook Justice Mooi en Sixabiso Klip van die moord op Preston Titus aangekla.

Klip is na ’n pleitooreenkoms met die staat reeds tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis, terwyl borgtog van R30 000 in die

Kaapse Hooggeregshof aan Maggie toegestaan is, en R15 000 borgtog aan Stuurman.
Borgtog is aan Mooi geweier.

January het die hof verlede week meegedeel dat sy familie ’n prokureur van Knysna aangestel het om hom te verdedig en hy nie meer van regshulp gebruik sal maak nie.

Landdros Johan Steynberg het die saak daarna tot vandag uitgestel.