
Die Vroue-landbouvereniging (VLV) se Calitzdorp-tak het onlangs hul jaarafsluitting by Buffelsdrift gehou, waar lede se gades ook altyd welkom is. Die jaar het verskeie hoogtepunte vir lede ingesluit.
VLV is ’n vroueorganisasie wat persoonlike groei bevorder en lede die geleentheid bied vir selfontwikkeling sowel as diens aan die gemeenskap. Dit stel lede in staat om ’n gesonde gesinslewe te lei en aandag te skenk aan behoeftes in die gemeenskap.
Volgens die Calitzdorp-tak se voorsitter Elize Spies hou die vereniging maandelikse programme wat insluit praatjies, demonstrasies, debatvoering, uitstallings, opvoerings, besprekings by vergaderings, sowel as georganiseerde opvoedkundige uitstappies.
“Bo alles is dit vir ons belangrik om terug te gee aan die gemeenskap. Ons is stil-stil betrokke by verskeie projekte, borge en skenkings, en help graag waar dit nodig is,” sê sy.
Elize voeg by dat die VLV Calitzdorp se Proe om die Wêreld-funksie, wat verlede jaar ontstaan het, nou ’n jaarlikse gebeurtenis geword het waarop die plaaslike gemeenskap uitsien. “Hierdie jaar het ons dit by die Tuinateljee in Calitzdorp aangebied, en die kaartjies vir kosaankope is vinnig uitverkoop. Die gemeenskap het ons regtig verbaas met hul ondersteuning en het ons verwagtinge oortref.”
Sy beklemtoon ook die belangrikheid daarvan dat lede se gades die afsluitings bywoon. “Hulle staan ons by met soveel van die projekte wat ons aanpak.”
Die nuwe VLV tema vir die tydperk Augustus 2025 tot Augustus 2026 is: “Ons krag lê in spanwerk.”
Belangstellendes kan Elize ’n Whats-App stuur by 063 482 8673. (MALISSA SPIES)