
Onder: Naamplate op die horlosie.

OM die klokhorlosie van die CP Nel Museum te herstel was beslis nie kinderspeletjies nie.
Die geskiedkundige horlosie en die kloktoring wat verlede jaar met groot liefde deur ’n groep Oudtshoorniete onder die leiding van Johan Breunissen herstel en skoongemaak is, kondig deesdae soos in die ou dae elke 15 minute die tyd aan.
Dries Jooste, wat in ’n groot mate vir die herstel van die horlosie self verantwoordelik was, vertel dat dit letterlik ’n proses was waar die een fout na die ander gesoek moes word en opgelos of uitgeskakel moes word.
Die horlosie en res van die kloktoring moes eers skoongemaak word, en dit opsigself was ’n groot proses. Eers nadat die horlosie versigtig met ’n klein borseltjie skoongemaak is, kon hulle begin om gebreke te soek en dit te herstel.
Twee van die tande van die horlosie se rat het byvoorbeeld ’n bietjie “tandheelkunde” nodig gehad! Die een tand het heeltemal afgebreek en moes vervang word, terwyl ’n ander “gekroon” is, beide prosesse wat vindingrykheid gevra het.
Volgens Dries, wat met vasberadenheid elke probleem met die herstel van die horlosie getakel het, was dit ’n blye dag toe die horlosie begin loop het.
Daar was nog net een probleem: die horlosie het effens tyd verloor. Daar is egter vasgestel dat dit by die swaai van die pendulum lê en ook dié probleem is reggestel.
Jooste, wat opgelei is as werktuigkundige, sê met die herstel van die klokhorlosie het hy ’n ding reggekry wat hy self nie gedink het hy sal kan doen nie.
Nou soek hy ’n klankversterker en twee luidsprekers sodat die gelui van die klok duideliker hoorbaar sal wees in die omgewing van die museum.
Hy sê die projek het hom ook weer die waarde van spanwerk geleer: “Al die ouens wat betrokke was – as jy hulle nodig gekry het, was hulle daar.” (Deur Liesel le Roux )