Israelse toeris raakgery

’N VROULIKE toeris van Israel wat Maandagoggend (13 Januarie) voor die Queen’s Hotel in Baron van Reedestraat raakgery is, is in ’n stabiele toestand in die Mediclinic Klein Karoo.

Atalia Chorev en haar man het omstreeks 08:00 foto’s van die hotel geneem terwyl hulle op die middelman in Baron van Reedestraat gestaan het.

Met die terugtree in die pad in is sy deur ’n Hyundai Atos raakgery.
Chorev is per ambulans na die Mediclinic Klein Karoo geneem, waar sy ’n skoueroperasie ondergaan het.

Hannes Stegmann, hospitaalbestuurder van Mediclinic Klein Karoo, het bevestig dat ’n buitelandse pasiënt Maandag in die Mediclinic Klein Karoo opgeneem is en die aand chirurgie ondergaan het.

“Sy is tans in ’n stabiele toestand en behoort binne die volgende paar dae ontslaan te word,” het Stegmann gesê.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, word geen saak ondersoek nie. (Deur Angelique Erasmus)