DIE Klein Karoo se toppresteerder in die afgelope matriekeksamen is Sharé Lund (18) wat matriek met ’n indrukwekkende vakgemiddeld van 90% en ses onderskeidings geslaag het.
Die vakke waarin sy onderskeidings behaal het, is Afrikaans huistaal, Engels eerste addisionele taal, wiskunde, fisiese wetenskap, lewenswetenskappe, rekenaartoepassingstegnologie en lewensoriëntering.
Sharé, Langenhoven Gimnasium se hoofmeisie van 2019, is ’n plaasmeisie. Haar ouers, Gustav en Marilize, boer sowat 35 km buite Beaufort-Wes op ’n plaas met die naam Elandsfontein. Sy is ’n oud-leerder van die Laerskool Nico Brummer in Beaufort-Wes.
Sy vertel dat sy graag perdry en dol is op die buitelewe.
Dié slimkop se gunstelingvak op skool was wiskunde, en sy gaan vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer.
Sy sê sy gaan die samesyn met haar skoolmaats die meeste mis wanneer sy vanjaar begin studeer.
Haar droom vir die toekoms is om suksesvol te wees in die rigting waarin sy gaan studeer en dat sy die doelwit wat God vir haar beplan het, sal bereik.
“Ek glo ook dat respek tussen mense baie belangrik is. As ons mekaar met respek behandel, sal ons almal in vrede kan saamleef,” sê sy.
• Lees meer oor die matriekuitslae asook skole se topmatrieks op bladsye 5 tot 8. (Deur Angelique Erasmus)