BLOEDIGE warm weer was tot dusver die week die hoofrolspeler in die Klein Karoo.
’n Hittegolf wat die Klein Karoo Maandag getref het, kan na verwagting die kwik vandag (Donderdag) tot by 47 grade Celsius laat styg.
Hoewel temperature van tussen 38 en 40 grade Celsius vir Maandag tot Woensdag voorspel is, het die kwik volgens inwoners Dinsdag en Woensdag reeds tot sowat 43 grade Celsius gestyg wat dit een van die warmste dorpe in die land gemaak het.
’n Algehele verbod op enige brande is sedert Maandag in die Oudtshoorn-gebied van krag.
Die warm weer sal volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens teen Vrydag verbeter tot ’n temperatuur van sowat 30 grade Celsius met selfs ligte reën tussen Vrydag en Sondag wat voorspel word.
Die versengende hitte volg minder as ’n week nadat ’n donderbui verlede Woensdag goeie reën oor die Klein Karoo laat uitsak het.
Volgens die Oudtshoorn Munisipaliteit is 21 mm reën in Oudtshoorn gemeet en 15 mm in die opvangsgebied van die Raubenheimerdam.
Inwoners in die omgewing van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn het egter aangedui dat naby 30 mm by hul huise gemeet is.
Verlede Woensdag se reën het nie net tydelike verligting vir baie gebring nie, sterk wind en kitsvloede het ook groot skade in dele van die Groter Oudtshoorn veroorsaak met huise wat se dakke afgewaai is, terwyl 16 huise onder water was en die inwoners in die Bongolethu Gemeenskapsaal gehuisves moes word. Veral die GG Kamp, Rosevalley, Toekomsrus en Dysselsdorp is deur die kitsvloede geraak.
By die Oudtshoorn Lughawe is ’n windsnelheid van 50 knope (92 km/u) deur die Aifa-vliegskool by die beheertoring gemeet.
Intussen hoop boere dat nog goeie reën binnekort kan val.
“Ons is dankbaar dat die nuwe jaar op so ’n geseënde manier vir ons produsente in die Karoo begin het wat al vyf jaar onder die droogte gebuk gaan. Hoewel die reën baie hoop gebring het, is die uitkoms nog ver,” sê Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
Hy sê opvolgreën is krities nodig vir plaas- en opgaardamvlakke en vir natuurlike weiding om te herstel.
“Produsente kan dalk een of twee jaar van ondergemiddelde reënval hanteer, maar die uitwerking van vyf jaar se ondergemiddelde reën kan waarskynlik net uitgewis word met vyf agtereenvolgende bogemiddelde jare. Ons glo verlede week se buie is die begin van ’n goeie reënseisoen vir die streek.”
Strydom sê produsente in die Klein Karoo hou duim vas dat genoeg reën ook in die berge sal val vir riviere om te loop. Agri Wes-Kaap lewer steeds droogtehulp in die Karoo.
Die Raubenheimerdam se vlak het die week tot 40,46% gedaal nadat sekere verpligte loslatings uit die dam vir landbouers stroom-af gemaak is. Dié loslatings – wat ingevolge ooreenkomste tussen dié watergebruikers en die munisipaliteit tydens die bou van die dam aangegaan is en verpligtend is in Januarie, Februarie en Maart – geld nie as die damvlak onder 34% daal nie. Indien die damvlak tussen 34% en 44% lê, word loslatings slegs pro rata gedoen.
Die gesamentlike vlakke van die Raubenheimer- en die Mellvilledam staan tans op 45,46%. (Deur Liesel le Roux)