Vieringe van Langenhoven se verjaarsdag by Arbeidsgenot

Christo Smit (links) en Carl Coetzer by die roosbome wat Woensdag aangeplant is. Foto: Hannes Visser Onder: Die Afrikaanse roos in volle blom. Foto verskaf. Heelonder: Die skrywer, Jan van Tonder. Foto verskaf.

C.J. Langenhoven, of Sagmoedige Neelsie, is net na middernag op 13 Augustus 1873 gebore en het die grootste deel van sy lewe as prokureur, skrywer en politikus in Arbeidsgenot op Oudtshoorn deurgebring. Sy bydrae tot Afrikaans en die Afrikaanse skryfkuns is van onskatbare waarde.

Om Langenhoven se geboorte te vier het die Arbeidsgenot-komitee op Woensdag 13 Augustus vier spesiaal-gekweekte roosbome in die tuin van Arbeidsgenot naby die grafte van Neelsie en Vroutjie geplant.

Roosbome wat jare gelede op dié plek was, is tot niet en met ʼn skenking van R1000 van die ATKV se Oudtshoorn-tak is vier Afrikaanse roosbome aangekoop wat ter viering van Afrikaans100 deur Ludwig’s Roses gekweek is. Carl Coetzer en Chrsito Smit van die Arbeids-genot-komitee het die vier roosbome Woensdag geplant.

Die komitee beplan ’n viering van Langenhoven se geboorte-maand tydens ’n funksie in die Neelsie-teater agter Arbeidsgenot op Woensdag 27 Augustus. Die program sal teen volgende week gefinaliseer wees.

Die bekende skrywer, Jan van Tonder, wat onlangs weer na Oudtshoorn verhuis het, gaan deel wees van die program.

Die koor van Langenhoven Gimnasium het aangedui dat hulle ook gaan deelneem en drie leerders van Gimmies gaan stukke wat hulle self voorberei het voorlees. Theo Witbooi, wat in die Swartmerrie en Welkom terug Kiewiets opgetree het, gaan saam met sy vrou, Tiffany, ’n kort stuk vir die aand voorberei.

Die aand gaan soortgelyk wees aan die een wat op 8 Mei met die vie-ring van Afrikaans100 aangebied is en slegs 80 kaartjies sal beskikbaar wees teen R50 wat koffie, tee en melktert insluit.

Inwoners kan solank die datum in die oor knoop, op die yskas vasplak of op hulle elektroniese dagboeke aanteken. Besonderhede oor die program en die beskikbaarheid van kaartjies sal vroeg volgende week bekend gemaak word.

Die Arbeidsgenot-komiteelede beywer hulle daarvoor om Arbeidsgenot weer as ’n toerisme- bestemming te bemark en om die Neelsie ten bate van die gemeenskap aan te wend met kulturele funksies. Daar word onder andere beplan om ’n leesfees vir plaaslike skrywers in September by Arbeidsgenot aan te bied. Meer inligting hieroor sal nader aan die tyd bekendgemaak word. (HANNES VISSER)