Daar is skaars twee weke oor voordat die gewilde Prins Albert Leesfees aanbreek. Die fees wat vir die tweede jaar in die pragtige Showroom Theatre aangebied word, het vanjaar weer ʼn vol program met die bykomende bonus dat drie van die aanbiedinge gratis is en feeskaartjies vanjaar teen ’n besparing van R200 aangebied word. Vir slegs R500 kan feesgangers al tien aanbiedings bywoon wat andersins R70 elk kos.
Die fees begin om 17:00 op Vrydag 29 Augustus met ’n openingsfunksie vir deelnemers en genooide gaste. Om 18:30 is Annelie Botes se man, Chris oftewel Die Gryse, saam met Hannes Visser op die verhoog om hulde aan Annelie as een van Afrikaans se mees geliefde skrywers te bring. Annelie se boek, Laastegoed, met rubrieke wat tussen 2020 en 2024 in koerante verskyn het, is pas deur Penguin Randomhouse uitgereik en word ook die aand bekendgestel.
Annelie is in Desember oorlede voordat sy die rubrieke kon selekteer en die boek is posthuum uitgegee
Saterdagoggend se program begin om 09:00 met ’n gesprek tussen Andrew Wilson, die skrywer van The Fourth Boy, en sy uitgewer, Karina Szczureck (Brink), sy uitgewer en die weduwee van André Brink. Die boek verkoop tans uitstekend.
Om 10:00 is die spanningskrywer, Martin Steyn, op die rooi bank as Sidney Gilroy met hom gesels oor sy spanningsroman, Donkerwater, wat onlangs verskyn het. Martin is bekend vir sy intensiewe navorsing oor veral forensiese ondersoeke en in hierdie boek neem hy die leser onderwater saam met ʼn span polisieduikers.
Poësie kom om 11:00 aan die beurt as Tom Dreyer oor sy bundel, Nou in infrarooi gesels. Die bundel het uitstekende resensies ontvang en is Dreyer se debuutbundel. Hy is ook bekend vir verskeie prosawerke.
Spanningfiksie kom weer om 12:00 aan die beurt as Erla-Mari Diedericks oor haar jongste boek, Bonsaimeisies, gesels waarin ʼn reeksmoordenaar wat vrees onder vrouens saai, vasgetrek moet word.
Na middagete is die bekende en bekroonde visuele kunsternaar, Alex Hamilton om 13:30 agter die mikrofoon om staaltjies uit sy aweregse outobiografie, Arting and the Subsequent Shenanigans of a Serial Collector te vertel.
Misdaad, raaiselagtige gebeure en obskure karakters wat die gereg ontduik word op verskillende maniere verken en blootgestel met die tweede sessie wat om 15:30 en 16:30 plaasvind.
Eerste aan die beurt is debuutskrywer, De Wet Bischoff wat oor sy misdaadroman, Die Kubermoorde, met Hannes Visser gesels en daarna vertel Sidney Gilroy vir Erla Diederichs oor die intriges en manlike karakters in sy splinternuwe boek, Roulette, wat sy eerste be-kendstelling by die leesfees het.
Die middag word om 16:30 afgesluit met ʼn gesprek wat by die Vrystaatfees ʼn vol saal getrek het en reeds op verskeie radiostasies en televisie was.
Dit is die gesprek met die bekende en kleurvolle privaatondersoeker, Mike Bolhuis, oor die boek Valskermbataljon-verhale wat na minder as twee maande reeds sy tweede druk beleef. In die boek, waarvan Bolhuis die samesteller is, vertel valskermsoldate wat tussen 1968 en 1994 opgelei en ontplooi is, hulle verhale in hulle eie woorde.
Die uitgewer, Johan Coetzee van Naledi, is saam met Bolhuis op die verhoog as Hannes Visser, wat die redakteur van die boek was, met hulle gesels. Hierdie gesprek beloof om iets anders as ʼn gewone boekgesprek te wees.
Saterdag word afgesluit met ʼn filmvertoning om 18:00. Die film is Raaiselkind wat as draaiboek verwerk is van Annelie Botes se boek oor ’n ma se stryd met ʼn outistiese seun.
Botes se navorsing oor outisme en die uitbeelding daarvan in haar boek, was so puik en treffend dat sy na Nederland genooi was om ’n internasionale simposium oor outisme toe te spreek.
Sondag se vier oggendaanbiedinge is gratis. Die eerste begin reeds om 07:15 by die opelug kotikomkoppie buite die dorp as Tom Dreyer en Hannes Visser die open-mic poësie met sonsopkoms inlei. Enigeen wat gedigte wil voorlees is welkom om deel te neem.
Vanaf 09:00 tot 11:20 is daar drie aanbeidinge in The Showroom. Tydens die eerste halfuur ontvang die wenners van die plaalike skryfkompetisie hulle pryse. Om 09:40 gesels die plaaslike skrywer, Cobus Buys oor sy twee boeke waarin hy die kwessie van geloof uit ʼn heel ander hoek benader en interessante insigte met die gehoor deel.
Die oggendprogram word om 10:40 afgesluit met ʼn aanbieding oor rotstekeninge in die Karoo deur die bekende professor John Parkington.
Die leesfees sluit af met ʼn ete by die Swartberghotel wat om 12:00 begin. Die afgetrede neuroloog en stigter van Pedriaticare Africa, Dr André Hattingh, gesels oor sy kookboek, Cooking with Doc, wat ten bate van die organisasie uitgegee is. Die middagete word voorberei uit resepte in die boek.
Kaartjies vir die ete kos R250. Slegs ’n beperkte aantal is beskikbaar en moet vooraf bespreek word. (Die ete is nie by die feeskaartjie ingesluit nie). Besoek die Facebookblad van Prins Albert Leesfees vir nog inligting.
Kaartjies kan vooraf bespreek word by Reinie Smit per WhatsApp (073 281 8891) of per e-pos: reiniesmit@gmail.com Kaartjies is ook vooraf by die Prins Albert- biblioteek beskikbaar en sal ook by die deure beskikbaar wees. (HANNES VISSER)
Prins Albert Leesfees om die draai
Van links: Mike Bolhuis, Tom Dreyer en Alex Hamilton.