
Vir Lea Olivier (12), ’n leerder van Laerskool Wesbank is haar honde veel meer as net haar beste vriende. Lea is pas terug op eie bodem nadat sy in Helsinki, Finland, op 10 Augustus, Suid-Afrika verteenwoordig het by die 2025 Wêreld Hondeskou, in die junior kategorie.
Sy het die Dalmatiese hond van die Playful Spots-stoet, geskou en teen 151 ander honde van dieselfde ras en 115 junior hanteerders gekompeteer. Haar deelname in Helsinki vanjaar volg op haar nasionale titel as junior hondehanteerder wat sy verlede jaar hier verower het.
Sy het vroeër vanjaar weer met die titel van KUSA Nasionale Junior Hanteerder weggestap en is een van die jongste deelnemers in die land. Hierdie titel stel haar in staat om in 2026 by twee internasionale hondeskoue haar land trots te maak, wanneer sy in Maart by die Crufts Hondeskou in Birmingham, Engeland sal deelneem, en later dieselfde jaar by die Wêreldhondeskou in Bologna, Italië.
Lea neem al die afgelope sewe jaar aan hondeskoue deel en presteer elke jaar goed in die verskeie kategorieë. Sy het as vyfjarige die skouring vir die eerste keer betree en het van toe af elke jaar, met die ondersteuning van haar familie, beter presteer.
Lea en haar ma, Lorish Olivier, is die eienaars van OBT hondestoet, wat top-Australiese skaaphonde in Suid-Afrika teel.
Wat hierdie hondestoet nog meer merkwaardig maak is dat dit die enigste stoet is waar Australiese skaaphonde nie net geteel word om mooi te wees nie, maar hulle werk ook met volstruise op hul plaas, net buite Oudtshoorn.
Lea is Sondag 17 Augustus om 19:00 op die gewilde TV program, Kwêla, op KykNet, kanaal 144 te sien. Skakel gerus in om meer te sien oor hierdie merkwaardige jong dame se passie en liefde vir haar viervoetige vriende. (ANGELIQUE ERASMUS)