C.J. Langenhoven is 152 jaar gelede op 13 Augustus 1873 gebore. Om sy geboortedag te herdenk, bied die Arbeidsgenot-komitee volgende Woensdag ʼn aand van musiek, vertellings en voorlesings aan. Gimmies se koor gaan optree en tussendeur is die bekende skrywer, Jan van Tonder ook agter die mikrofoon met ʼn insetsel oor Langenhoven. Die verhoogkunstenaar, Theo Witbooi, maak ‘n draai op die verhoog en drie van Gimmies se leerders, Ilse Stegman, Bella-Mae Strydom en Jean Joubert gaan ook elkeen iets oor Langenhoven lewer.
Die vorige program wat op 8 Mei ter viering van Afrikaans100 by die Neelsie aangebied was, was uitstekend bygewoon. Hierdie aanbiedings word deur die Arbeidsgenot-komitee gereël om Arbeidsgenot se kulturele en erfenisbelang vir die gemeenskap uit te lig, maar veral ook om die Neelsie-teater wat destyds deur inwoners en sakelui befonds is, tot voordeel van die gemeenskap te benut.
Kom vier Woensdagaand Sagmoedige Neelsie se geboortemaand en raak deel van die ryk kulturele erfenis wat hy en Vroutjie aan Oudtshoorn se mense nagelaat het. Die program begin stiptelik om 18:00 met koorsang deur die 45 koorlede van Gimmies en word om ongeveer 19:00 weer deur hulle afgesluit.
Daar is slegs 80 kaartjies teen R50 beskikbaar en sluit tee, koffie en melktert in. Kaartjies moet vooraf gekoop of bespreek word en is tussen 09:00 en 15:30 beskikbaar by die KKNK-kantore agter Arbeidsgenot in Jan van Riebeeckweg en ook by Christo Smit van Te Heerlik tee-proelokaal en teewinkel by Langenhovenweg 86 weeksdae vanaf 10:30 tot 15:30. Kaartjies kan ook telefonies by hom bespreek word by 072 833 7723.
Vir navrae oor die program, skakel Hannes by 083 467 1522.
