
Oudtshoorn SAPD se misdaadvoorkomingseenheid het Dinsdagmiddag omstreeks 12:30 ’n verdagte in hegtenis geneem en dwelms ter waarde van R21 000 gekonfiskeer.
Die arrestasie het op die N12 by die ENGEN-vulstasie net voor Oudtshoorn plaasgevind. Volgens sers. Chris Spies, media-skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap het die SAPD-lede gereageer op inligting wat van ’n lid van die publiek ontvang is.
Die verdagte is opgemerk toe hy sy voertuig langs die pad verlaat het waar voetgangers gereeld staan om duim te gooi. Die man is deursoek en ’n vuurwapenreplika, een ammunisierondte en 60,32g tik is in sy besit gevind.
Hy is op die toneel in hegtenis geneem op klagte van onwettige besit van ammunisie en dwelmhandel. Hy bly in aanhouding tot sy hofverskyning. (ANGELIQUE ERASMUS)