Inwoners word dringend gevra om hulle deel te doen om die Groter Oudtshoorn skoon te hou. Die Hoorn het die afgelope week in dele van die dorp rondbeweeg en besef dat die munisipaliteit se reinigingsdienste ’n bykans onbegonne taak verrig.
Buiten hulle program waarvolgens vullistrokke daagliks roetes deur die dorp volg om huishoudelike afval op te tel, is daar ook bykans 100 oop spasies in die Groter Oudtshoorn waar mense rommel stort. Hierdie spasies word ook volgens ʼn vooraf opgestelde program ten minste een keer per week opgeruim indien dit moontlik is. Die ontstellende werklikheid is egter dat ’n spasie wat pas opgeruim is, binne ’n dag of twee weer met rommel besaai word.
Buiten hierdie twee programme moet reinigingsdienste ook daagliks op klagtes reageer waar onwettige rommelstrooiing deur inwoners aangemeld word. Een van die bydraende faktore tot rommel wat in woonbuurte gestrooi lê is inwoners wat hulle huishoudlike afval nie volgens die vullisverwyderingskedule uitsit nie. Sommige inwoners sit swartsakke reeds die vorige aand uit en dit gebeur ook dikwels dat inwoners swartsakke uitsit nadat die vragmotor reeds verby is.
’n Nuwe tendens het die afgelope tyd skynbaar ook kop uitgesteek wat vullisverwydering verder bemoeilik. Daar is oral in die dorp swart vullishouers geplaas wat bedoel is vir verbygangers se rommel soos papiere, blikke en bottels. Wat egter gebeur is dat inwoners hierdie houers begin gebruik om hulle huishoudelike afval te stort. Die houers is nie groot genoeg vir hierdie tipe storting nie en dra by tot rommel wat op sypaadjies lê.
Die munisipaliteit het reeds verskeie brandpunte geїdentifiseer waar gereeld klagtes oor rommel ontvang word en probeer sover as moontlik om die areas of straathoeke op te ruim. Rommel wat in strate beland word ook met reënbuie in die dorp se stromwaterstelsel ingespoel wat verstoppings veroorsaak.
Daar word ’n beroep op inwoners gedoen om huishoudelike afval betyds uit te sit om deur vullistrokke op hul roetes opgelaai te word en om enige onwettige storting onmiddelik aan te meld. Die netheid van ’n omgewing is tot ʼn groot mate afhanklik van die verantwoordelikheid wat inwoners vir hulle eie rommel neem, het ’n inwoner gesê.
“Ek kan nie onthou hoeveel organisasies het al die afgelope paar jaar honderde en honderde sakke vol gemors hier rondom ons woonbuurt kom wegry nie, en dan lyk dit ’n week later presies net so. Dit is regtig tyd dat gemeenskappe verantwoordelikheid neem en self inspring eerder as om te verwag dat ander mense kom opruim.” (HANNES VISSER)
Reinigingsdienste het hande vol met onwettige rommelstorting
Een van die oop spasies wat gereeld deur die munisipaliteit skoongemaak moet word.
Foto verskaf.