Die nasionale kommisaris van korrektiewe dienste, Makgothi Thobakgale het die voorval by die Oudtshoorn gevangenis waar personeel aangeval en een gevangene dood is betreur en as onaanvaarbaar bestempel.
Die voorval het verlede Donderdag, 7 Augustus plaasgevind tydens die oggendroetine toe gevang-enes se getalle bevestig is. Tydens die prosedure is vier lede van DKD met skerp voorwerpe aangeval en gewond. Twee van die lede het steekwonde in die kop en gesig opgedoen. Daar is verlede week verneem dat een in die hospitaal opgeneem is, maar dit is nie bekend of hy intussen ontslaan is nie.
Die aanval het gevolg op oproerigheid wat in ’n deel van die gevangenis uitgebreek het tydens ’n gesamentlike operasie van DKD en die SAPD toe alle selle vir onwettige middels en wapens deursoek is.
Volgens Thobakgale is die deursoeking op Woensdag 6 Augustus uitgevoer en tydens die operasie het gevangenes in kamer 005 van die Medium A korrektiewe fasiliteit teenstand teen die deursoeking gebied en geweier om hulle samewerking te gee.
Lede het egter toegang tot die kamer verkry en met die visentering voortgegaan. Sommige van die gevangenes het geweier om deursoek te word en weerstand gebied. Amptenare kon egter orde herstel en tydens die soektog is verskeie onwettige items soos selfone en dwelms gekonfiskeer.
Thobakgale sê in sy verklaring dat gevangenes van kamer 005 egter Donderdagoggend, 7 Augustus, met voorbedagte rade ’n vergeldingsaanval op DKD-lede geloods het. Die aanval het omstreeks 07:55 tydens die oopsluitprosedure plaasgevind. Daar was 18 DKD-lede op diens tydens die voorval en vier is beseer met steekwonde aan die gesig, kop en rug. Hulle het mediese behandeling ontvang. Tydens die voorval is een gevangene ernstig beseer. Ten spyte van mediese behandeling, is hy dood.
Thobakgale betreur die lewensverlies en het gesê die sterfte is deel van ’n verdere ondersoek wat volgens departementele voorskrifte onder-neem word.
Hy het die voorval ten sterkste veroordeel en sê in die verklaring: “The safety of officials and inmates remains our foremost priority. Incidents of this nature are deeply concerning, and we are committed to thoroughly investigating all contributing factors. Department of Correctional Services remains committed to ensuring the safety and wellbeing of the officials and inmates, whilst maintaining order across all its correctional facilities.”
Na die voorval is die A-eenheid weer deeglik deursoek en daar is op nog wapens beslag gelê.
Die gevangenes wat deel was van die voorval is in enkelselle geplaas en staar dissiplinêre stappe in die gesig. As voorsorgmaatreël is alle aktiwiteite van die oortreders sowel as besoekregte tot verdere kennisgewing afgelas. (HANNES VISSER)
Vier DKD-lede tydens aanval gewond, een gevangene dood
