Vier van die ses verdagtes in ’n veediefstalsaak is Woensdag, 14 Februarie borgtog toegestaan.
Anthony Booysen, William Oktober, Gregory Smit en Fransva Marnevic, is borg toegestaan teen R300 elk, met die voorwaarde dat hulle twee maal per dag by die Dysselsdorp polisiestasie moet aanmeld.
Ebrahim September en Jenique Lewies is egter borgtog geweier, aangesien hul hangende sake teen hulle het en reeds op borgtog uit was toe die misdaad gepleeg is.
Landdros Stephanie Strydom het gesê dat dit duidelik is dat hulle nie gehoor gee aan borgvoorwaardes nie en daarom het sy hul borgtog geweier.
Die ses verdagtes is aangekeer in Dysselsdorp met volstruiskarkasse in hul besit ter waarde van R100 000.
In die hof tydens die borgaansoek het Ebrahim September in die getuienisbank gesê dat hulle die volstruise op ’n hoop gejaag het en hulle doodgeslaan het met stokke en klippe. Hy het ook gesê dat daar ’n persoon is wat die karkasse by hulle koop, maar dat hy nie die persoon se naam ken nie.
Die saak is uitgestel tot 27 Februarie waarna dit in die Streekshof voortgesit sal word. (Deur Lindi Brill)