Stywe boete vir man wat vrou slaan

’n Man van Dysselsdorp wat sy vrou met die vuis in die gesig geslaan het omdat sy onder die invloed van alkohol was, is verlede Woensdag in die Oudtshoorn streekhof gevonnis tot ’n boete van R10 000 of ses maande gevangenisstraf.

Christopher Booysen (55) het onskuldig gepleit op ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer maar wel skuldig aan aanranding gewoon. Volgens hom het hy die betrokke aand baie kwaad geword. Sy vrou het hom reeds vergewe.

Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dat gesinsgeweld al hoe meer toeneem en dat vonnisse opgelê moet word wat die oortreder en andere sal afskrik. Booysen se vonnis is vir vyf jaar opgeskort en hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit. (Deur Garnett Wicomb)