VIER verdagtes het Dinsdag in die Oudtshoorn Landdroshof verskyn vir die onwettige besit van dwelms nadat hulle Vrydagaand by ’n huis in Dysselsdorp in hegtenis geneem is.
Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het lede van die Eden Kluster se landelike blitspatrollie en misdaadbestrydingspan op ’n huis in Dysselsdorp toegeslaan nadat inligting oor onwettige dwelms op die perseel ontvang is.
Die polisiebeamptes het twee verdagtes in hegtenis geneem toe ’n klein hoeveelheid Tik en bykans ’n kilogram dagga gevind is.
Twee ander verdagtes wat in besit was van ’n klein hoeveelheid Mandrax, is later ook in hegtenis geneem.
Polisie in die Eden Kluster het tussen Vrydag en vroeg Sondagoggend (06:00) 290 verdagtes in hegtenis geneem, waarvan 222 vir misdade wat die oortreding van Covid-19-regulasies insluit.
Boetes van R38 500 is uitgeskryf, hoofsaaklik vir die oortreding van die aandklokreël, terwyl 572 voertuie en 1 148 mense deursoek is. (Deur Liesel le Roux)
Vier vas vir dwelms, talle beboet vir oortreding van pandemie-regulasies
