‘Lego’-blokke die toekoms van bekostigbare behuising

’n Rowwe voorbeeld van hoe ’n woning kan lyk (bo) en een van die selfboustene. (Foto’s verskaf)

DIE behoefte aan bekostigbare behuising vir die massas is ’n kwessie waarmee derduisende Suid-Afrika­ners daagliks wroeg, en met die nasionale regering wat al hoe minder huise subsidieer, is ’n Suid-Afri­kaanse nie-winsge­wen­de organisasie (NWO) tans besig met ’n projek wat nie net ’n oplossing vir die be­hui­sings­kwes­sie kan bied nie, maar wat mense – en dus ook inwoners van die Klein Karoo – kan bemagtig om hul eie huise te bou en ander te leer hoe om dit te doen.

Die iKagele Empowerment Foundation (IEF) – ’n nie-winsgewende organisasie wat op die been gebring is deur maatskappye in Gauteng en Polokwane – het reeds vandeesweek begin met die opleiding van ’n handvol Oudtshoorniete om hul eie huise te kan bou.

Daar word ook na dié strukture verwys as Modular Residential Units (MRU), sê Fanie van Zyl, direkteur van Creo Construction wat ook betrokke is by die IEF.

“Die visie van IEF is om vroue en die jeug te bemagtig deur opleiding in Basic Insulated Concrete Forms (ICF) building te gee sodat hulle as ICF-installeerders kan kwalifiseer. ICF is ’n boumetode en gebruik be­ton om huisstruktuurblokke te vul.

Die bouwerk word bykans soos met lego-blokke gedoen, en is tot vier ure bestand teen brande, bied isolasie teen hitte en koue, en is ook lugdig en demp klank,” vertel Van Zyl.

Volgens Van Zyl spruit die idee vir die boublokke en opleiding uit die Strandfontein-debakel van 2020 waar honderde mense weerloos gelaat is nadat brande hul wonings vernietig het, en die Wes-Kaapse regering gesukkel het om hulle verder te huisves.

“Die konsep van die MRU is dat inwoners self die vertrek kan oprig en so bemagtig word deur opleiding, en dus waardetoevoeging tot hul lewens omdat hulle dit self gebou het.

“Die regering is nie meer bereid om RDP-huise te bou nie, en skuif die fokus na die beskikbaarstelling van grond en dienste in plaaslike gemeenskappe.

“Hierdie boumetode spreek dus ’n groot behoefte onder inwoners wat in haglike en onveilige gemeenskappe woon aan”.

Van Zyl sê die doelwit is dus om geordende informele gemeenskappe te bemagtig en netjiese woongebiede te skep terwyl hulle terselfdertyd leer om self met die ICF-blokke te bou en ook ander ervaring op te doen sodat geen arbeid van buite die dorp be­nodig sal word nie.

Dié boustelsel is ook geskik vir mense wat ’n groter huis wil bou omdat dit aan SANS 10400 en munisipale bouregulasies voldoen.

“Ontwerpe word nou gefinaliseer. Iemand sal ’n eenvertrek-gebou kan oprig en soos tyd verloop vertrekke kan byvoeg.

Die koste is minder as R30 000 vir ’n struktuur van 3,6 m x 4,8 m met basiese aansluitingsopsies vir elektrisieteit en loodgieterwerk.”

So ’n vertrek sal betonmure hê, met onderdak-isolasie, ’n betonvloer wat met EPS Crete (Expanded Polystyrene Concrete) bedek is en basiese pleisterafwerking of ander afwer­kings, sê Van Zyl.

“Dis belangrik dat daar wel ’n spoeltoilet binne die vertrek, agter ’n toe deur, moet wees,” voeg hy by.

Die eerste opleidingsessie het op 7 Augustus op Oudtshoorn afgeskop teen geen koste nie, maar toekoms­tige opleiding sal R1 200 per persoon beloop.

“Ons sal poog om dié geld te verkry vanaf organisasies soos die Lotto, UK Aid en ander stigtings.”

Behalwe vir die basiese opleiding, sal ervare bouers uit die gemeenskap ook opgelei word om die basiese kursus aan te kan bied. Hiervoor sal hulle as fasiliteerders 50% van die fooi as inkomste ontvang, en dan ook as ’n geakkrediteerde ICF-installeerder en -inspekteur kan optree.

Van Zyl sê dit is belangrik om te onthou dat die program nie bouers oplei nie, maar wel ICF-blok-installeerders.

“Na die basiese kursus ontvang hul ’n sertifikaat van bywoning.” (Deur Stefan Skapie Goosen)