DIE borgaansoek van die vier mans wat daarvan aangekla word dat hulle op Maandag 19 Julie 2021 ’n sekerheidswag van Fidelity by ’n vulstasie in Bridgton oorval en van sy vuurwapen en meer as R86 000 kontant beroof het, is Dinsdag in die
Oudtshoorn Landdroshof vir verdere argumente en moontlik uitspraak, uitgestel tot 17 Augustus.
Simphiwe Matwa (41), Lwandiso Lento (36), Masixole Dolomba (27) en Sakhele Nkabi (36),’n weermagkaptein verbonde aan die Oudtshoorn Infanterieskool, staan tereg op vier klagtes van roof met verswarende omstandighede, die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie asook die onwettige besit van ’n ongemagtigde vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is.
Hulle is almal van George.
Adv Zukile Mqulo, wat vir Matwa, Dolomba en Nkabi verskyn het, het gesê dit is in belang van geregtigheid dat borgtog aan Matwa, Dolomba en Mkabi toegestaan word. Volgens hom is daar geen getuienis dat Matwa saam met die veiligheidswagte van Fidelity gewerk het soos die staat beweer nie. Matwa is werkloos, maar besit ’n huis in Port Elizabeth wat hy teen R9 000 per maand verhuur. Hy is deeltyds ’n taxibestuurder en het geen vorige veroordelings nie. ’n Vorige klagte van roof teen hom is teruggetrek.
’n Saak van roof is in 2020 ook deur die staat teen Dolomba teruggetrek en daar is geen getuienis dat hy ’n verkeerde woonadres aan die ondersoekbeampte verskaf het nie. Hy is ’n motorwerktuigkundige en onderhou sy familie en kind.
Volgens Mqulo het die staat ’n baie swak saak teen Nkabi. Hy het ’n vaste werk as weermagkaptein en sorg vir sy moeder en kinders. Daar is ook geen getuienis voor die hof dat die tweede vuurwapen aan hom behoort nie.
Hy het gesê die hof kan streng borgvoorwaardes stel en indien hoër bedrae vasgestel word as wat die beskuldigdes aangebied het, sal hulle in staat wees om dit te kan betaal.
Die ondersoekbeampte, ao Lunika Buqa, staan borgtog teen. Hy is van mening dat die vier ’n vlugrisiko is en van die getuies ken. Van hulle word verbind met ander roofsake in die George-distrik.
Landdros Marvin de Vos het ook ’n tweede datum, 18 Augustus, vasgestel indien een dag te min is vir die afhandeling van die aansoek. (Deur Garnett Wicomb)