• Noodgesprekke oor droogte en krisis in landbou Vrydag gevoer

Binne ’n paar jaar van hier . . . tot hier

Die Klein Karoo van enkele jare gelede, met groen lusernlande en lusern wat kniehoogte staan (bo) en die Klein Karoo soos dit nou daar uitsien – droog en dor sonder enige groenigheid. Foto’s verskaf deur Laubscher Coetzee
Deur Liesel le Roux
MET ’n vernietigende droogte wat die landboubedryf in die Klein Karoo in ’n wurggreep het, vergader al die boereverenigings van Agri Klein Karoo môre (Vrydag) op Oudtshoorn met vier Wes-Kaapse ministers in die hoop om droogtehulp te bekom.
Die vier ministers, Alan Winde (ekonomiese ontwikkeling), Ivan Meyer (finansies), Donald Grant (vervoer en openbare werke) en Anton Bredell (plaaslike regering en omgewingsake), reis spesiaal na Oudtshoorn vir die gesprek. Ander rolspelers, soos verteenwoordigers van die sakesektor en plaaswerkers, sal ook aan die gesprek deelneem.
Die ministers sal ook plase in die streek besoek.
Twee van Oudtshoorn se raadslede, George Kersop en Johan Fourie, het na verneem word ’n groot rol gespeel om dié gesprek te laat plaasvind nadat hulle ’n versoek om hulp van Agri Klein Karoo ontvang het.
Die droogte wat al etlike jare duur, word as die ergste in dekades bestempel, deur party selfs as die ergste die afgelope eeu.
Besproeiingsdamme, opgaardamme en riviere is leeg of byna leeg.
Volgens Laubscher Coetzee, wat in die Volmoed-omgewing boer, word die hele situasie vererger daardeur dat boere nie soos met vorige droogtes op volstruisboerdery kan terugval om kop bo water te hou nie.
Weens die uitbreek van die hoogs patogeniese H5N8 Avian Influenza mag volstruisvleis sedert verlede jaar nie meer uitgevoer word nie en het baie volstruisboere reeds tou opgegooi.
Boere gaan ook gebuk onder groot uitstaande skuld wat opgeloop het weens die droogte.
Daar is nie meer opsies nie, sê Coetzee.
“Boere kan nie diversifiseer nie omdat daar nie water is nie. Al wat vir boere oorbly, is die hoop dat iets sal verander.”
Hy sê dit is die eerste keer in die 30 jaar wat hy in die Klein Karoo boer dat hy die veld so droog sien.
“Dit is stofdroog,” sê Coetzee.
Volgens Bartel du Toit wat ook in die Volmoed-omgewing boer, het hy in Oktober 2015 laas water uit die takriviere op sy plaas gehad. Die laaste waterleibeurt uit die Stompdrift/Kammanassie Waterskema was in November 2016, sê hy.
Hy vertel droogtes is ’n realiteit in die Klein Karoo. Dit is daarom dat die streek hom so goed tot volstruisboerdery leen.
Behalwe vir die Europese verbod op die invoer van volstruisvleis uit Suid-Afrika is daar nog faktore wat dit nie meer vir volstruisprodusente winsgewind maak om met volstruise te boer nie.
Dié faktore sluit in:
• Die hoë koste van voer. Met die huidige droogte het lusernproduksie in die Klein Karoo feitlik tot stilstand gekom. In die verlede kon produsente lusern opgaar vir gebruik in die droë jare. In die huidige droogte moet lusern en ander voer aangekoop word;
• Die ondoeltreffendheid en gesloer van die betrokke staatsinstellings; en
• Modeneigings wat lei tot ’n afname in die verkope van volstruisleer.
Du Toit sê die Du Toits het nie lank gelede nie 57 ha wingerd onder besproeiing gehad met ’n wynkelder waar 1000 ton druiwe jaarliks gepars kon word.
“Die wingerde is egter tot niet weens die klimaatsverandering in die Klein Karoo,” sê hy.
Du Toit sê in sy gemoed bestaan daar geen twyfel meer oor klimaatsverandering nie.
Joey Potgieter wat in die Welbedacht-omgewing boer, sê dit is ook vir landbouprodusente ’n probleem dat hulp wat die
Departement van Landbou aan boere gee onvoorspelbaar en ongereeld is en tot groot onsekerheid lei.
Boere het byvoorbeeld in Februarie hulp ontvang, en toe eers weer in Julie.
Volgens Potgieter is daar ’n wye verskeidenheid kwessies wat Vrydag aangespreek moet word, onder meer die feit dat volstruisboerdery geensins ingesluit word by hulpskemas van die Departement van Landbou nie; die gevaar van werksverliese as daar nie hulp aan boere kom nie; water- belasting wat betaal moet word, al ontvang boere geen water meer uit die
Stompdrift/Kammanassie Waterskema nie; en die uitwerking van die erge droogte op die ekonomie van Oudtshoorn en die inwoners van die streek.
“Die indruk word gewek dat die regering fokus op die metropole en vergeet van ons op die grens van die Wes-Kaap,” sê hy.
Gideon Badenhorst, voorsitter van die Oudtshoorn Besigheidskamer, stem saam dat die droogte se invloed ook na besighede op die dorp begin oorspoel.
“Landbou speel ’n groot rol in die ekonomie van Oudtshoorn en uit die aard van die saak het die droogte ’n rimpeleffek op die dorp se ekonomie,” sê hy.