Deur Wyndham Ewerts
’N NAELSKRAAPSE oorwinning Saterdag deur die Bridgton Rugbyklub se A-span oor die span van Heidelberg in ’n SWD Premierligawed- stryd het ’n frank smaak gekry toe bestuurslede van Bridgton na bewering ná die wedstryd deur toeskouers aangerand is.
Volgens ’n betroubare bron is ondersteuners van Bridgton wat van Oudtshoorn na Heidelberg vir die wedstryd gereis het, ook beseer en hul voertuie beskadig.
Onder die bestuurslede wat aangerand is, is Benito Metembo, voorsitter van die Bridgton Rugbyklub, ter- wyl Hennie Baartman, president van die SWD Rugbyunie, in ’n stadium glo ook vasgekeer was toe ’n bakleiery uitgebreek het.
Volgens die bron moes die Heidelberg Polisie ingryp om gemoedere te kalmeer.
Na wat verneem word, het onder andere ’n bestuurslid en ondersteuners van die Bridgton Rugbyklub klagtes van aanranding en van opsetlike beskadiging van hul voertuie by die Polisie ingedien.
Die rugbyveld in Heidelberg waar die wedstryd plaasgevind het, staan informeel bekend as “Never Lose Park” en die onmin het oënskynlik uitgebreek omdat die tuisspan met 25-26 teen Bridgton verloor het.
Die span van Heidelberg is in 2009 geskors weens ’n bakleiery op die veld, maar is in 2010 weer toegelaat om te speel.
Baartman het aangedui dat hy nie kommentaar kan lewer op Saterdag se voorval nie omdat die saak tans sub judice is.
• Bridgton se punte is aangeteken deur Blaine James (flank), Mondi Stofile (slot), Carlos Jansen (reserwe) en Keanin Esau (heelagter) wat elkeen ’n drie gedruk, en Esau wat drie van die drieë verdoel het.