Vier KKNK-dramas is binnekort op TV!

VIER uitsonderlike dramas wat die afgelope aantal jare opslae by die KKNK op Oudtshoorn gemaak het, is in Desember en Januarie 2022 op VIA (DStv-kanaal 147) te sien.

Dié vier teaterstukke wat onlangs op film vasgevang is, is Rachelle Greeff se ikoniese Die Naaimasjien, Philip Rademeyer se Opdrifsel, Tom Lanoye se Koningin Lear (vertaal deur Antjie Krog) en Reza de Wet se Asem (vertaal deur Marthinus Basson).

Izelle Venter, kanaalhoof van Me­dia24 TV, sê daar is groot opwinding by VIA oor dié projek. “Dankie aan die KKNK en teatermakers wat hul werk kom deel. Dis vir my opwindend dat hierdie trefferstukke nou ook vir groter gehore beskikbaar is.”

Die Naaimasjien, 25 Desember 20:00, geen heruitsendings: Sandra Prinsloo skitter in die veelbekroonde en aangrypende eenvroustuk, wat oor ’n tydperk van drie jaar en honderde opvoerings gehore vasgenael gehou het in hul sitplekke. Dit is ook by die Edinburghfees in Skotland opgevoer.

Dit is die verhaal van Magdaleen wat in haar ouetehuiskamer sit en besig is om haar naaimasjien skoon te maak sodat die nuwe eienaar dit kan kom haal. Dit word ’n roerende, persoonlike kroniek van die geluk, verlies, verlange en versoening tydens ’n hele leeftyd.

Opdrifsel: 2 Januarie 21:00; heruitsendings op 4 Januarie 21:00 en 7 Januarie 21:00: Dié stuk sou in 2020 by die KKNK debuteer, maar dit kon weens die Covid-19-pandemie nie gebeur nie. “Die filmweergawe is in 2021 opgeneem voordat dit nog voor ’n gehoor kon speel. Die produksie kon wel daarna by Aardklop voor ’n gehoor debuteer,” sê die artistieke direkteur van die KKNK, Hugo Theart. Rademeyer het in 2020 die ATKV-Woordveertjie vir beste dramateks ontvang en Tinarie van Wyk Loots is deur Aardklop as beste aktrise vir haar spel in dié drama aangewys. Van Wyk Loots en Brendon Da­niels is te sien in dié verhaal van ’n egpaar wat hul enigste kind aan die dood afstaan. Hulle moet hulself én mekaar in die donker gat van rou verloor, en weer vind.

Koningin Lear: 1 Januarie 21:00; heruitsendings op 5 Januarie 21:00 en 8 Januarie 21:00: Dié drama is in 2019 opgevoer ter viering van die KKNK se 25ste bestaansjaar. Dit het ook ander speelvakke gehad en is met verskeie pryse bekroon, onder meer ’n kykNET Fiësta- en ’n Kanna-prys vir Antjie Krog se mees­terlike vertaling van die teks.

Dié herverbeelding van Wil­liam Shakespeare se King Lear bring die room van Suid-Afrikaanse akteurs by­een vir dié kragtige verhaal oor fa­mi­lie, mag en ’n wêreld wat op sy kop gedraai is. Antoinette Kellermann, Anna-Mart van der Merwe, Rolanda Marais, André Roothman, Neels van Jaarsveld, Wilhelm van der Walt, Matthew Stuurman en Edwin van der Walt is in die produksie te sien, met regie en ontwerp deur Marthinus Basson.

Asem: 26 Desember 21:00; her­uitsendings op 3 Januarie 21:00 en 6 Januarie 21:00: Volgens Theart is die filmweergawe van dié be­kroon­de 2017-teaterproduksie ’n unieke ervaring vir die kyker. “In plaas daarvan om dit op die verhoog te skiet, is die produksie in ’n plaas­stal by die Worcester Museum verfilm. Die kyker word deur beson­der­se kame-rawerk binne die storie geplaas.”

Met Asem verweef De Wet, wat op 27 Januarie 2012 oorlede is, digterlik en kragtig ’n verhaal van liefde in ’n tyd van vernietiging, wat die alledaagse omskep in die uitsonderlike. In die rolverdeling is Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt.