Lynelle Kenned maak buiging by Klassieke Klein Karoo Kersfees!

Lynelle Kenned. Foto verskaf

DIE gewilde Lynelle Kenned, wat vanjaar die eerste keer haar buiging by Klassieke Klein Karoo Kersfees maak, sê sy sien baie uit na dié buitelugkonsert wat op Saterdag 11 Desember op die plaas Celebratio buite Oudtshoorn aangebied word.

Lynelle sal die verhoog deel met Corlea Botha, Jannie Moolman en lede van die Stellenbosch Stadsorkes.

Dis nie die eerste keer dat dié drie kragstemme me­kaar op ’n verhoog ontmoet nie. Hulle het in 2019 saam by die KKNK in die Sing Saam!-konsert opgetree. Meer onlangs was Lynelle en Corlea saam op die plan­ke met From Broadway to Bird Street by die 2020 Woordfees.

Lynelle, ook bekend as aanbieder en aktrise, sê hoewel sy al die hoede geniet wat sy dra, bly musiek haar groot liefde.

Dié boorling van die Paarl se gunsteling- klassieke treffer is Maria Callas se Casta Diva. Hoewel dié lied nie op die program is by Klassieke Klein Karoo Kersfees nie, is daar heelwat klassieke treffers waarna die gehoor kan uitsien, insluitend The Flower Duet, gesing deur Lynelle en Corlea, asook The Rose en All I ask of you, terwyl Kersliedere soos Mary did you know,

Die Heiland is gebore en Joy to the World ook gehoor sal word.

Lynelle se mooiste herinnering van Kersfees is ’n Kersete toe sy so agt of nege jaar oud was, met haar ouers, boetie, ouma, oupa en haar nefie wat om ’n tafel sit. “Daar is kos en versierings, ons het almal Kers­hoedjies op en het Christmas crackers getrek. Glimlagte. Van die hele groep is nog net ek, my pa en broer oor vandag,” vertel sy.

Sy’t nog nie definitiewe Kersplanne vir vanjaar nie, maar sê sy gaan dit saam met van haar vriende – wat al familie geraak het vir mekaar – deurbring.

Klassieke Klein Karoo Kersfees word in samewerking met Klein Karoo Klassique aangebied. Die Hoorn is die mediavennoot. Die konsert begin om 19:30, maar die kos- en wynstalletjies asook ’n kontantkroeg is van 18:00 af oop.

Kaartjies (R250) is aanlyn beskikbaar by www. celebratio.co.za of kontant by Postnet Oudtshoorn. Vir navrae kontak Gerhard Meyer by 082 802 7138.

Hulle wen elkeen dubbelkaartjies!

Die twee gelukkige wenners van ’n verlede week se kompetisie in Die Hoorn vir dubbelkaart­jies na dié konsert is Japie Coetzee en Ansie Verwey. Die ant­woord op die vraag verlede week in Die Hoorn vir die name van drie Kersliedere wat by die konsert gesing gaan word, is Somerkersfees, Stille Nag en Jerusalem.