So is ons almal in die stormsee van die pandemie

“EK sien ’n prentjie van die groot oseaan met verskillende groottes bote daarop. Ek sien ’n storm wat woed. Die verskillende groottes bote is die verskillende groottes hospitale en die storm is die Corona-virus. Ons kan nie die virus sien nie, maar net die impak wat die storm het op die ander bote voor ons.

Hier agter vaar ’n klein bootjie met 68 bemanningslede met ’n nuwe kaptein, ’n ervare senior bestuurspan, maar hulle het nog nooit so ’n storm trotseer nie. Ek sien bekommernis op die gesigte van bemanningslede en passasiers (ons pasiënte).
Die storm tref elke bootjie op ’n ander tyd.

Ons sien die eerste golf kom, ons trek reënjasse (PPE) aan, ons maak reg, ons boot skud, ’n paar bemanningslede word platgetrek, die ander staan vir hulle in, maar die wat deur die storm omgeslaan word, staan weer op en roei verder.

So kom die tweede en derde golf, elke keer is ons meer voorbereid, sterker as die vorige keer. Ons praat mekaar moed in, gee mekaar ’n druk op die skouer, huil stil agter ons reënskerms, maar ons hou aan bid vir mekaar en vir die storm om verby te gaan.

Ons sien hoe twee bemanningsdokters, dr Dreyer en dr Cronje afval. Ons probeer hulle red, maar tevergeefs. Die storm is te erg.

Ons tel ons eie bemanningslede; daar is steeds 68. Ons is dankbaar vir elkeen wat gespaar is. Die groter gemeenskap gooi vir ons kospakkies in die boot, kom sing en bid vir ons. Ons kry weer krag en roei verder. Ons staan saam as een span en so pak ons dit aan wat nog vir ons mag voorlê.

So vaar ons 2022 in, met hoop dat ons boot, deur God se genade, met deernis sal aanhou vaar.