Niel Els verlaat Oudtshoorn

Niel Els... “my jare op Oudtshoorn was van die beste in my lewe”.

NIEL ELS, ’n bekende in toerisme-, sake- en sosiale kringe op Oudtshoorn en in die Suid-Kaap, verhuis na Houtbaai in die Kaapse Skiereiland.

Els het 12 jaar gelede na Oudts­hoorn verhuis om die Turnberry Boutique Hotel te bestuur. Hy het ook ’n aandeel in die hotel bekom.

Hoewel die gewildheid van die hotel stewig gegroei het sedert hy die bestuur oorgeneem het en veral gewild onder oorsese toeriste was, het die Covid-19-pandemie die mat onder die onderneming se voete uitgeruk en was die eienaars genoodsaak om die hotel in die mark te sit.

’n Hotel- en restaurantgroep van Mosselbaai het Turnberry gekoop en beoog om met die bedryf van die hotel voort te gaan, het Els gesê.

Tydens sy verblyf op Oudtshoorn was Els onder meer voorsitter van Oudtshoorn Toe­risme, die Oudts­hoorn Besigheidskamer, Famsa Karoo en SCEP (South Cape Economic Partnership).

Hy was ook die president van Skål SA en die vise-president van Skål Internasionaal. Skål is ’n organisasie wat toerisme nasionaal en internasio­naal bevorder.

Els het ’n pos gekry by die Vida Nova Retreat in Houtbaai wat deel is van ’n hotelgroep met hotelle wêreldwyd.
Die groep het ook onlangs die Klaarstroom Hotel gekoop.

Els sê hy is baie hartseer om Oudts­­hoorn te verlaat. “My twaalf jaar hier was van die beste in my lewe. Ek gaan hier weg met ’n hart vol vriende.”

Tydens ’n informele afskeid vir hom Dinsdag by Turnberry het dit duidelik geblyk dat Els ’n hart vir ander mense het en graag mense gehelp het as die nood druk. Hy sê sedert Covid-19 het dit soms baie moeilik met hom gegaan en het baie mense hom bygestaan, waarvoor hy groot dank uitgespreek het.