Berry word in 2022 verhoor

DIE saak teen die bestuurder van die motor waarin ’n 18-jarige matrikulant van Oudtshoorn, Marilize Nortier, op 22 September 2019 gesterf het, is in die Oudtshoorn Landdroshof vir verhoor tot 2022 uitgestel.

Sidney Berry (25) van Groot Brakrivier staan tereg op klagtes van strafbare manslag, alterna­tiewelik roekelose of nalatige bestuur, en versuim om by ’n ongelukstoneel hulp te verleen.

Die motor waarin Nortier ’n passasier was, het die aand tussen Oudtshoorn en die Kango Grotte die pad verlaat en in ’n diep watervoor beland.

Berry het glo die toneel verlaat sonder om enige hulp aan Nortier te verleen en later weer teruggekeer.

Nortier was steeds in die voertuig vasgegordel toe dit ure later uit die water gesleep is, en ’n nadoodse ondersoek het bevind dat sy verdrink het.

Landdros Vaughen Shone het die saak op 2 November op versoek van Berry se regsverteen­woordiger, Buleleni Bans, vir verhoor tot 21 Januarie 2022 uitgestel. (Deur Garnett Wicomb)