Kerkstraat op Oudtshoorn nadat dit onder die subkontrakteur deurgeloop het.

’n Sypaadjie nadat dit opgekap is vir die lê van optiese veselkabel.

Die hoek van Kerk- en Baron van Reedestraat gister nadat Cybersmart self ingespring het om met die herstel van sypaadjies op die dorp te begin. Foto’s verskaf
Liesel le Roux en Angelique Erasmus
DAAR is hoop vir Oudtshoorn se sypaadjies in veral die middedorp wat die afgelope maande permanent soos iets uit ’n oorlogsone lyk. Die sypaadjies is oor die afgelope maande op groot skaal deur subkontrakteurs van die firmas Cybersmart en Liquid-Telecom opgekap vir die lê van optiese veselkabel vir verskeie staatsinstellings. Die herstelwerk daarna was egter in sekere gevalle erg onvoldoende.
Veselkabel bestaan uit haardun pypies van glas of plastiek. Data word deur die pypies gestuur deur ligseine. Veselkabel maak vinniger internet moontlik.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het die firmas toestemming van die munisipaliteit gekry vir die lê van die veselkabel na die indiening van ’n projekplan.
’n Voorwaarde vir toestemming was dat die sypaadjies herstel moet word na hul oorspronklike toestand.
Na verneem word is van die konstruksiewerkers al verskeie kere deur die munisipaliteit opdrag gegee om werk oor te doen.
Liquid Telecom werk volgens Mangqwenqwe, in Adderleystraat van Oranjestraat na Voortrekkerweg; in Voortrekkerweg van Adderley- na Baron Van Reedestraat; in Langenhovenweg vanaf Voortrekkerweg tot Cowleystraat en tot by die munisipale kantore en Wes-Kaapse provinsiale kantore in Vredestraat; Baron van Reedestraat van Voortrekkerweg na die Eljada Skool; St Johnstraat van Baron van Reedestraat tot Parkweg, Parkweg tot by die hospitaal. Veselkabel is onder meer aangelê na die Laerskool Van Reede, die Adderleystraat-kliniek, die Oudtshoorn Hospitaal die Oudtshoorn Polisiekantoor, en ook na South Cape Wireless, ’n internetverskaffer in Kerkstraat, Oudtshoorn.
Liquid-Telekom beoog om herstelwerk van die sypaadjies en paaie eersdaags af te handel.
Cybersmart het op hul beurt ’n kontrakteur van Mosselbaai gekry om ook veselkabel in Kerkstraat tot by
South Cape Wireless aan te lê. Dié kontrakteur het egter sowat ’n week gelede “verdwyn” waarna Cybersmart ’n span vanaf Kaapstad na Oudtshoorn moes stuur om die sypaadjies te kom herstel.
Volgens Kyle Johnson van Cybersmart behoort die herstelwerk teen die einde van volgende week afgehandel te wees. Nuwe bakstene vir die plaveiwerk moes vanaf Mosselbaai bestel word nadat die vorige kontrakteur meer as 50% van die stene beskadig het.
Chris de Wit, eienaar van South Wireless, sê hy is nou is die enigste internetverskaffer in die Tuinroete wat soveel veselkabel as rugsteun het. Hy het ook veselkabel van Telkom en Openserve. De Wit sê ander besighede sal in die toekoms ook voordeel hieruit kan trek omdat die infrastruktuur nou gevestig is.