Geen spoor van die Draaistraat-skieter

Die toneel verlede Woensdagaand in Draaistraat op Oudtshoorn waar twee skote vanuit die straat op ’n huis gevuur is.  Foto: Schalk le Roux

Deur Liesel le Roux
DAAR was teen gister nog niemand in hegtenis geneem in verband met twee skote wat verlede Woensdagaand vanuit Draaistraat in Oudtshoorn na ’n vrou binne-in haar huis afgevuur is nie.

“Daar is nie enige vordering met die saak nie. Geen verdagte is nog geïdentifiseer nie en geen motief is bekend nie,” sê kapt Louis Visser, woord­voerder van die Oudts­hoorn Polisie.

Volgens Visser kon die polisie die wapen wat in die skietery gebruik is, identifiseer as ’n .38 rewolwer met 15 rondtes.

Visser sê hoewel die skieter vasgevang is deur ’n sekuriteitskamera in die straat is die gehalte van die opname baie swak en die identifisering van ’n persoon daardeur bykans onmoontlik.

Hy het gevra dat enige lid van die publiek met inligting die ondersoekbeampte, ao Morne Janse van Rensburg, skakel by 044 274 4400.

Die vrou was volgens ’n familielid in ’n vertrek aan die straatkant van die huis besig toe die twee skote geklap het. Een van die koeëls wat omstreeks 20:20 afgevuur is, het buite in die muur net bokant die venster vasgesteek, terwyl die ander koeël aan die onderkant van die venster die glas gebreek het.

Die vrou is nie getref nie. Volgens die familielid het sy skuiling gesoek en hulp ontbied. Familie­lede en die polisie was kort na die voorval op die toneel. Die polisie ondersoek ’n saak van poging tot moord en die afvuur van ’n vuurwapen in munisipale gebied.