
Die vervalle huis van die 75-jarige ouma Sarie Koemitoe in Bongolethu is danksy die bydrae en samewerking van verskeie besighede en organisasies opgeknap en op Mandeladag onder groot toejuiging deur haar oopgesluit. Koemitoe het haar dank teenoor almal uitgespreek en die Here se seën toegewens
Die opknapping van die huis was die inisiatief van Phillip Seroux met die ondersteuning van veral Oudtshoorn Korrektiewe Dienste, Build It en A/o J. Bowers, sektorbevelvoerder van die SAPD wat ingespring het om dit weer leefbaar te maak.
Bowers het in sy boodskap ’n beroep op op die gemeenskap gedoen om elke dag Mandela se waarde en sy respek vir ander uit te leef en nie net op 18 Julie nie.
“As ons begin met respek vir ons ouers, sal ons ook respek hê vir ons bure, vir ons gemeenskap en vir mekaar.” Volgens hom sal respek die oplossing wees vir gesinsgeweld, aanranding, diefstal en soveel ander misdade.
Phillip Bush, hoof van Oudtshoorn Korrektiewe Dienste, het in sy boodskap, die gevangenes van die Oudtshoorn Korrektiewe sentrum bedank vir twee weke se harde werk wat hulle ingesit het as hul bydrae om te vergoed vir wat hulle verkeerd gedoen het.
’n Emosionele Seroux het gesê sy hart loop oor van dankbaarheid vir die ondersteuning wat hy van so baie donateurs gekry het om die huis van ouma Koemitoe weer leefbaar te maak.Volgens hom is die die werk nog nie voltooi nie en daarom sal ouma Koemitoe eers by een van haar dogters bly. (GARNETT WICOMB)