Die Oudtshoorn-span van Boston Boys wat reeds ’n bekende kosstalletjie by die KKNK is, is verlede week as die beste kosstalletjie by die Vrystaat-fees aangewys.
Boston Boys is reeds in 2016 begin en behoort aan Dawie Theron en Corné (Trompie) Fourie. Die onderneming is aanvanklik begin met Amerikaanse-styl burgers, spare ribs en buffalo wings. Deesdae fokus hulle op net een gereg – Steak On. Dit is gebraaide bief-repies op skyfies, pap of slaai.
Dawie en Corné word bygestaan deur Daniella Fourie, Bets Matthee, Marelize Ayford en Berinell Jansen.
Volgens Dawie is dit nie kinderspeletjies om vir die duur van die fees ’n gewilde kosstalletjie te beman en hulle eko-vriendelike bakkies vol kos aan feesgangers voor te sit nie.
“Ons staan vroeg op, want ons begin reeds om 08:00 met voorbereidings en bedien kos tot 22:00 elke aand. Dan moet daar opgeruim en skoongemaak word. Elke dag. Almal werk regdeur die skof, en rus maar min,” sê hy.
Die Boston Boys doen elke jaar die Kirkwood Wildsfees en die KKNK waar hulle ook al as die beste kosstalletjie aangewys was.
Vanjaar was hulle eerste fees in Bloemfontein. Volgens Dawie verg dit fyn beplanning om te sorg vir genoeg voorraad.
Met vanjaar se deelname aan die Vrystaat-fees moes hulle noodgedwonge verskaffers vir vleis en produkte in Bloemfontein kry.
Hulle is al so gewoond aan Kirkwood se feespatrone dat hulle vleis hier aankoop en saamneem. Hy sê hulle oorweeg ook om moontlik nog ’n fees in die Wes-Kaap by te voeg, maar moet nog ’n geskikte een identifiseer. (HANNES VISSER)
Oudtshoorn se Boys beste kosstalletjie by Bloem-fees
Die Boston Boys met hulle sertifikaat as beste kosstalletjie by die Vrystaat-fees. Van links is: Daniella Fourie, Dawie Theron, Trompie Fourie, Berinell Jansen, Bets Matthee en Marelize Ayford. Foto verskaf