Diefstal van mangatdeksel lei tot onkostes van derduisende rand

Die diep rioolgat waaruit obstruksies verwyder moes word.

Diepoging van diewe wat gedurende die naweek die ysterdeksel van ’n mangat op ’n hoofrioollyn wou steel, het reuse-ontwrigting, derduisende rande se uitgawes en grootskaalse besoedeling veroorsaak.

Teen druktyd Woensdag, was ’n kontrakteur steeds besig om die skade en verstopping te her-stel. Die munisipaliteit het Saterdag reeds ’n dringende waarskuwing op Facebook geplaas met die inligting dat daar ’n noodsaaklike wateronderbre-king aan oostelike kant van dorp vir die veiligheid van werkers plaasvind.

Die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, het inwoners gewaarsku dat dit ernstig oorweeg word om die watertoevoer vanaf die reservoir na die hele oostelike gedeelte en omliggende areas om en naby Klein Karoo Markt vir ’n beperkte tyd af te sluit weens ernstige infrastruktuurbeskadiging aan die rioolstelsel naby die sentrum.

Die verklaring lui: “Omvangryke skade is aan die rioollyn aangerig, met verskeie mangatdeksels wat oopgebreek is om staal te verwyder. Dit het daartoe gelei dat groot stukke sement, beton en boublokke in die rioolslote beland het, wat die vloei ernstig belemmer en tot ernstige blokkasies gelei het.”

Werkers moes fisies in die gat wat meer as vyf meter diep is, afklim in ʼn poging om die obstruksiemateriaal te verwyder, maar dit was duidelik dat gespesialiseerde toerusting bekom sou moes word om die rioollyn oop te kry.

Maandag het die munisipaliteit in ’n verklaring gesê munisipale spanne kon nie die obstruksie verwyder nie en dat die dienste van ʼn gespesialiseerde kontrakteur bekom moes word. Die kontrakteur was Maandag op die toneel om met die werk te begin.

Behalwe vir die enorme finansiële uitgawe wat die vandalisme tot gevolg het, het riool as gevolg van die verstopping ook in die Grobbelaarsrivier beland. Noodmaatreëls is in plek gesit om die besoedeling teë te werk.

Die provinsiale departement van omge-wingsake, ontwikkeling en beplanning is ook dadelik oor die voorval ingelig. Opruiming van die area word steeds voortgesit.

Teen Woensdag, met die koerant se spertyd, was die rioollyn nog nie herstel tot normale vloei nie. Die munisipaliteit het Woensdagoggend bevestig dat die kontrakteur volstoom werk om die obstruksie te verwyder. As tussenmaatreël is ’n pomp hoër op met die rioollyn geplaas wat riool met ’n tydelike pyp verby die verstopping na ’n volgende aansluiting pomp.

Volgens Aurelia Mle, munisipale kommunikasiebeampte, het dit tot gevolg dat minder riool in die rivier beland en dat werkers onder veiliger omstandighede kan werk. Volgens Mle, is daar sover nie slegs stukke beton wat in die gat beland het nie, maar ook klippe en selfs 329 plastiekemmer wat ingegooi is. Die verwydering van die versperrings is volgens Mle ʼn moeisame en stadige proses.

’n Volledige assesering van die skade en impak op die omgewing sal gedoen word sodra die rioolvloei ten volle herstel is. Die rioolgat waar die obstruksie is, is op ’n ongemaklike smal strook grond geleë tussen Langenhovenweg en die heining van die Klein Karoo Markt-inkoopsentrum wat die gebruik van masjienerie bemoeilik. (HANNES VISSER)

Werkspanne by die rioolgat wat deur vandale se optrede verstop is. Foto’s verskaf.