Twee splinternuwe boeke by PA Leesfees

Die Prince Albert Leesfees wat van 29 tot 31 Augustus in The Showroom Theatre aangebied word, spog nie net met 14 uiteenlopende items op die program nie, maar ook met twee boeke wat eers in Augustus vrygestel word.

Hierdie twee boeke is met die aanbieding van die fees warm van die drukpers af.

Die leesfees open met ’n huldiging aan die skrywer Annelie Botes op Vrydagaand 29 Augustus. Daar was aanvanklik beplan om met Annelie se man, Chris oftewel Die Gryse, te gesels oor Annelie se skryfwerk, maar Penguin Randomhouse het hierdie week bekendgemaak dat ’n boek met rubrieke van Annelie wat nog nie in boekvorm was nie, in Augustus gaan verskyn en ook tydens die gesprek bekendgestel sal word.

Chris het verlede week gesê Annelie het tydens haar laaste week in die hospitaal gevra dat hy al haar rubrieke van 2020 tot 2024 bymekaar moet sit sodat sy dit kan deurgaan en sommiges uitkies met die oog op publikasie. Annelie was egter nie in staat om die sorteerwerk te doen nadat sy uit die hospitaal ontslaan is nie en is op 12 Desember 2024, slegs vier dae na haar ontslag oorlede.

Penguin Randomhouse het die rubrieke ontvang en besluit om dit in ʼn bundel, Laastegoed, te publiseer. Die bundel verskyn in Augustus en die Prince Albert Leesfees is die eerste fees waar dit bekendgestel word.

Die huldiging van Annelie duur Saterdagaand 30 Augustus, voort met die vertoning van die rol-prent Raaiselkind wat ook uit Annelie se pen gekom het. Die film is deur Sally Campher vervaardig wat dit goedgunstiglik beskikbaarstel vir vertoning by die fees.

Die ander boek wat tydens die Prince Albert Leesfees vir die eerste keer bekendgestel word, is Roulette van Sidney Gilroy. Hy is ʼn gereelde deelnemer aan die leesfees en sy vorige misdaadromans, Middernag, Klikbek, Vlam en Bloedsomer is uiters gewild. Hy tree ook tydens die leesfees as gespreksleier op in gesprekke met Martin Steyn (Donkerwater) en Erla Diederichs (Bonsaimeisies).

Al nege skrywersgesprekke en die rolprentvertoning by die Prince Albert Leesfees kos vanjaar R70 per persoon. ’n Feeskaartjie kan teen R500 gekoop word wat toegang tot al 10 geleenthede gee. Die gesprekke en digkuns met sonsopkoms wat Sondagoggend plaasvind, is gratis.

Die Sondagmiddagete en gesprek met Dr André Hattingh oor sy boek Cooking with Doc kos R250 per persoon en is nie by die feeskaartjie ingesluit nie.

Die volledige program is beskikbaar op die Facebookblad: Prince Albert Leesfees.

Kaartjies kan bespreek word by Reinie Smit per e-pos by reiniesmit@gmail.com of per WhatsApp by 073 281 8891. Kaartjies is ook beskikbaar by die Prince Albert biblioteek en sal ook tydens die fees by die deure van The Showroom Theatre beskikbaar wees. (HANNES VISSER)