Welkom terug Kiewiets op die planke

Bo: Theo en Tiffany Witbooi by die Prince Vincent-gebou. Foto: Hannes Visser Onder: Theo in die hoofrol van Die swartmerrie.

As dit by toneelspel en die skryf van toneelstukke kom, sit Theo (35) en Tiffany Witbooi (31) nie en wag bloot vir geleenthede nie. Hulle spring in, skryf hulle eie materiaal en bring dit self op die planke.

Hulle werk die afgelope aantal maande hard aan die eenmanstuk, Welkom terug Kiewiets, wat vanaand en môreaand in die Prince Vincent-gebou opgevoer word. Tiffany het die teks geskryf en behartig ook die regie met Theo in die rol as Kiewiets.

Die stuk van ongeveer 45 minute vertel die verhaal van ʼn jong man wat na bykans 18 jaar na sy ouerhuis op Volmoed terugkeer en dan met die omstandighede en sy verlede moet omgaan.

Oudtshoorn is sinoniem met die KKNK waar talle produksies jaarliks gesien word, maar dit gebeur nie dikwels dat jong plaaslike kunstenaars op hulle eie stoom en met eie befondsing ’n produksie aanbied nie.

Beide Theo en Tiffany, wat verlede jaar getrou het, is reeds bekende name as dit by toneel kom. Die drama Die swartmerrie was verlede jaar so gewild by die KKNK dat albei vertonings uitverkoop was en die produksie vanjaar weer aangebied is.

Die swartmerrie het twee Kanna-toekennings ontvang. Die teks is deur Tiffany geskryf en Theo het die manlike hoofrol vertolk. Hy was ook een van vier akteurs landwyd wat vir ʼn Fiesta-toekenning as beste manlike rol benoem was vir sy rol in Die swartmerrie.

Theo se eerste kennismaking met teaterteks en toneel was tydens die Oudtshoorn Teksmark wat in 2021 in Oudtshoorn deur die KKNK aangebied is waar deelnemers hulle eie stukke moes skryf en voorlees. Tiffany was ook deel van daardie groep wat onder leiding van die dramaturg en regisseur, Neil Coppen, en die kunstenaar Vaughn Sadie aangebied is.

Sedertdien het Karoo Kaarte as deel van die KKNK gestalte gekry en Tiffany en Theo is baie nou by die projek betrokke.

Theo se eerste rol in ’n produksie was in die toneelstuk Op hierdie dag wat tydens die KKNK in 2022 as deel van die Karoo Kaarte-projek aangebied is.

Theo sê dat Neil Coppen sy mentor is en dat Neil se passie vir toneel en teaterwerk uiters inspirerend vir jong kunstenaars is.

Tiffany se pad in die toneelwêreld het in 2018 begin toe sy tydens die KKNK ʼn toneelstuk Bid of baklei vir Uitkampteater geskryf het en ook daarin gespeel het. Haar eerste toeneelstuk vir die teater was Fietsry vir dommies. Sy was medeskrywer en medewerker van Op hierdie dag saam met ander skrywers en Neil Coppen. Die stuk is vir ’n Kanna-toekenning benoem.

Vir Tiffany is Neil Coppen ’n rolmodel en inspirasie. “Ek beskou hom as my mentor en vriend. Ons het reeds vier toeneelstukke geskryf en opgevoer deur die Karoo Kaarteprojek. Dit sluit die Kyknet Fiësta-bekroonde stuk Droomkraan kronieke en Die swartmerrie in. By Vaughn Sadie het ek baie oor administrasie en bestuur in die kunste geleer.”

Sy sê die teks van Welkom terug Kiewiets het ongeveer ’n maand geneem om te skryf en daarna moes dit verfyn word.

Haar skryfwerk het ’n aantal maande stilgestaan na die afsterwe van haar ma, maar Welkom terug Kiewiets is sedertdien voltooi.

Die Hoorn het Dinsdagmiddag tydens repetisie met die egpaar gesels en dit was duidelik dat hulle groot passie het vir wat hulle doen. Hulle is opgewonde oor die twee vertonings wat vanaand en môre-aand aangebied word, veral omdat hulle dit heeltemal op hulle eie stoom en sonder enige befondsing van buite reggekry het.

Daar is slegs 50 plekke by elke vertoning beskikbaar en kaartjies kan vooraf teen R70 bespreek word, maar sal ook teen R90 by die deur beskikbaar wees.

Skakel Theo of Tiffany by 084 353 3698 en 061 060 1522 vir besprekings en inligting. (HANNES VISSER)

Theo Witbooi tydens ’n werksessie by Oudtshoorn Teksmark in 2021 met Neil Coppen links in die voorgrond. Foto: Hans van der Veen