Sedert 2017 was Jos Sutmuller van Nijmegen in Nederlnd reeds 10 keer in Suid-Afrika.
Dit is waarskynlik nie besonders nie, maar hy kom elke keer De Rust toe waar hy by House Martin tuisgaan in ’n eenheid wat nou al na hom vernoem is. Jos het Maandag na sy tiende kuier van drie weke na Nederland teruggekeer en Die Hoorn het verlede Donderdag met hom deurgebring.
Hy het Beaufort-Wes toe gegaan om by die ikoniese sanger en digter, Gert Vlok Nel te kuier en vir hom ’n geskenk van stroopwafels te gee. Jos vertel dat hy in Nederland ’n optrede van Junita du Plessis gesien het en toe hy hoor dat sy in 2017 by die KKNK optree, het hy besluit om Suid-Afrika te besoek.
“Ek kon glad nie Afrikaans praat nie, maar die musiek en die taal het my getrek en toe raak ek verslaaf aan Suid-Afrika en aan Afrikaans en aan die Klein Karoo,” vertel hy.
Sedert daardie besoek aan die KKNK het hy nog elke daaropvolgende fees bygewoon.
Hy loop ook nie ’n enkele vertoning in Nederland mis waar Afrikaanse sangers optree nie.
Sonder Jos se medewete en voordat hulle ontmoet het, het Gert Vlok Nel drie maande in Nijmgegen gewoon en aan sy tweede musiek-album gewerk. Die stadsraad van Nijmegen het ’n historiese huis in die stad wat hulle vir kunstenaars en skrywers van elders beskikbaarstel.
Jos word in Desember 73 en praat Afrikaans redelik vlot. Hy het Afrikaanse kursusse deurloop en is ook deel van ’n groepie Nederlanders wat Afrikaans kan praat en gereeld bymekaarkom.
Hy het sy kleindogter twee jaar gelede saamgebring met sy besoek aan Suid-Afrika en volgens hom het dit ’n geweldige indruk op haar gemaak. “Ek het vir my dogter gesê ‘ek moet jou waarsku, as jy eenkeer in Suid-Afrika was, raak jy verslaaf’ en dit was ook so,” vertel hy. Volgens hom is daar iets aan die Suid-Afrika en sy mense wat nêrens anders te vinde is nie.
Met die rit vanaf De Rust na Beaufort-Wes het Jos telkens na die oop ruimtes gewys en verduidelik dat mens nêrens in Nederland kan ry sonder om ’n dorpie of geboue te sien nie.
Hy kom telkens alleen aangesien sy vrou weens gesondheidsredes nie mag vlieg nie en hy verduidelik dat sy besoek aan volgende jaar se KKNK ook afhang van haar gesondheid. “Ek wil graag die KKNK kom bywoon, maar my eerste verantwoordelikheid is my vrou met wie ek al 54 jaar getroud is.” (HANNES VISSER)