Die Oudtshoorn Besigheidskamer (OBK) het die jaar met ’n swierige Gala-aand by De Opstal in Schoemanshoek afgesluit.
Die aand is deur sowat 150 besigheideienaars en werknemers bygewoon. Gaste het aan ’n topgehalte driegangmaaltyd gesmul.
Tydens die verrigtinge het Abri Ferreira, voorsitter van die OBK sy span bedank vir hulle harde werk en toegewydheid wat bydra tot die sukses van die besigheidskamer.
Dr Willie Cilliers, voorsitter van die AHI (Afrikaanse Handelsinstituut) het op sy beurt Ferreira en sy span gelukgewens met ’n suksesvolle jaar asook die verskeie toekennings wat lede van die besigheidskamer gekry het.
Die gasspreker tydens die geleentheid was Johann Kotzé, hoof uitvoerende beampte van Agri SA.
Hy het sakemanne aangemoedig om “agter die klip te gaan loer” en anders oor besigheidsbestuur en besigheidsmoontlikhede te besin.