
WOENSDAGAAND, 27 September, is ’n eerste vers-en-skilderaand in Colridge View, aan huis van Poem Mooney gehou. Sowat dertig gaste het die geleentheid, Huis Galery, bygewoon. Die konsep was die breinkind van Poem Mooney en Paul Amas, en hulle is bygestaan deur Andre Boezak.
Poem Mooney het sy eie versameling skilderye aan die gaste getoon, en dit is aangevul met voorlesings van die legendariese Mooney en Boezak.
Paul Amas het die skilderye verder ingekleur met sang. In vervloë eeue het mense in huise byeengekom om na musiek te luister. Dit was die broeikas van hedendaagse klassieke musiek. Boezak het in sy inleiding gesê dat kuns deesdae deur ’n “erge elitistiese” streep deurdink is, terwyl kuns en woordkuns eintlik geil in stofstrate van woonbuurtes groei.
“Niemand praat van kunstenaars soos Henry Prins, Nelton Willemse, ds. Jan Hendriks, oorspronklik van Bakenskraal en tans predikant in Wellington, Hayley Prins en Dr Hildegaardt Raubenheimer nie”, het Boezak aan die gehoor gesê.
Die aand was ’n eerste van hopelik nog vele wat onder die vaandel van “Nat Ink Produksies” gehou is.
Die driemanskap beplan om die uur-lange produksie die toekoms in te lanseer.
Alle vertonings sal so vêr moontlik by huise gehou word. (Deur Lindi Brill)