Skaalmodelvliegtuie vul die hemelruim

Van links staan Jaco Erasmus, van Oudtshoorn, met sy de Havilland Tiger Moth vliegtuig wat tydens die tweede wêreldoorlog gebruik is om vlieëniers op te lei. Langs hom is John Bowles, van die Weskus met sy SPAD S.XIII. Hierdie Franse vliegtuig is tydens die eerste wêreldoorlog gebruik. Theo van der Heever, ook van die Weskus wys sy Fokker D.VIII. Hierdie vliegtuig is tydens die laaste maand van die eerste wêreld-oorlog deur die Duitsers gebruik. Foto: Angelique Erasmus

MEER as 90 modelvliegtuie het Oudtshoorn se lugruim gevul van Donderdag 28 September tot Sondag 1 Oktober.

Modelvliegtuigentoesiaste het van regoor Suid-Afrika gekom om die 52ste Oudtshoorn Skaalmodelvliegtuigskou by te woon.

Wat hierdie skou so uniek maak is dat slegs vliegtuie wat bestaan en volgens skaal gebou is hier mag vlieg.

Meeste van die vliegtuie is tot in die fynste detail gebou en geverf. Die vegvliegtuie het beslis aandag getrek met hul harde turbines en vlerke wat fluit wanneer hulle toertjies deur die lug gedoen het.

Daar was ook slegs 2 voorvalle waar vliegtuie in die moeilikheid beland het in die lug en geval het. Altyd ’n hartseer gesig om te sien.

Die jongste vlieënier was Gideon de Villiers, wat slegs 10 jaar oud is en reeds wonderlike vliegvernuf het.

Volgens Jan Hendrik Alberts, voorsitter van die Cango Vliegklub in Oudtshoorn was die skou ’n groot sukses en het deelnemers het hul baie geniet.

“Ons sien uit daarna om hulle weer volgende jaar in ons pragtige dorp te verwelkom,” sê hy. (Deur Angelique Erasmus)