Vermiste 18-jarige ná soektog gevind

Michaela Barends (18). (Foto verskaf.)

’N 18-JARIGE vrou van Nissenville in Ladismith wat op 14 Februarie as vermis by die Ladismith Polisie aan­gemeld is, Michaela Barends, is Maan­dag na ’n grootskaalse soektog by ’n vriendin in Robertson gevind.

Volgens ao Jan Cederas, woord-voerder van die Ladismith Polisie, het ’n wenk van Abriel Afrikaner van Change My Community baie gehelp.

“Nadat die inligting op sosiale media geplaas is, het hy laat weet hy het haar op 13 Februarie by die Total-vultasie gesien, en dat dit gelyk het of sy gaan duimgooi.”

Sekuriteitskameras by die vulstasie het bevestig dat sy daar verbygeloop het.

Volgens Cederas het Michaela met haar verdwyning ’n brief by die huis gelos waarin sy haar familie gevra het om haar nie te soek nie. Daar is aanvanklik inligting ontvang dat Michaela met kanker gediagnoseer is en dit die rede vir haar verdwyning kon wees, maar volgens Cederas het haar ma aangedui dat dit nie korrek is nie.