ATKV wil hand bysit ook met Prins Albert se kultuurfeeste

Op die ATKV-vergadering was Mariana Botes, Granville Griebelaar, Henna Olivier, Mietjie Sass en Ivy Bruintjies; (middel) Jakoba Visagie, Dora Sass, Lorraine Lottering en Andy van Rooi; en (voor) Sara van Rooi, Morné van Staden, Denise Ohlson en Gerrie Lemmer. Foto: Marlene Malan

Deur Marlene Malan
Prins Albert is een van Suid-Afrika se lewendigste kultuursentra wat ’n groot klem op erfenis en nalatenskap plaas. Daarom is dit belangrik dat dié dorp se feeste en ander gemeenskapsprojekte ook op ’n nasionale vlak ondersteun word.

Dit was die boodskap op ’n onlamgse vergadering wat twee ATKV-topamptenare belê het met die bestuur van die plaaslike ATKV-tak, onder leiding van Denise Ohlson. Sy is bygestaan deur die taksekretaresse, Mariana Botes.

Gerrie Lemmer, die ATKV (nasionaal) se uit­voerende hoof: taal en kultuur, het gesê dié dorp is een van baie kultuurryke dorpe in die land wat hulle tans besoek om dié organisasie se steun te bied. Hy het gesê dis bekend dat Prins Albert baie vir sy gemeenskap doen op die gebied van taal, kultuur, erfenis, tradisie en talentontwikkeling.

“Ons vraag is wat kan óns bydra om dit vir julle makliker te maak? Daarom is dit belangrik dat die plaaslike ATKV feeste en projekte identifiseer wat reeds hier aan die gang is, waarby ons kan inskakel.

Ons wil dit nie uit die gemeenskap se hande neem nie, maar ons wil hê die organiseerders moet weet hulle is nie meer alleen nie.

“Ons hou Prins Albert al geruime tyd fyn dop – dis waarom ons nou hier is. Sosiale kohesie en nasiebou is vir die ATKV baie belangrik, met die gemene deler taal en kultuur. Afrikaans is die medium waarin ons werk.”

Die dorp is die tuiste van die bekende Prins Albert Vastrappers wat binne vier jaar as een van die land se toprieldansgroepe ontluik het. Dit bied ook al die afgelope ses jaar die Prince Albert Leesfees aan, waar van die land se bekendste skrywers, digters, sangers en rappers al opgetree het en plaaslike skrywers met mekaar in skryfkompe-tisies meeding. Die Plaaskombuisfees, einde April, is die uitstalruimte van tradisionele kookkuns en plaasgebruike, en die OnsVirOns-konsert is die afgelope drie jaar die dorp is fokuspunt vir talent-identifisering en -ontwikkeling op die gebied van sang en musiek. Sara van Rooi, afrigter van die Vastrappers, het haar die afgelope jare onderskei as een van die nasionale rieldanskompetisie se voorste liedjieskrywers.

Volgens Morné van Staden, ATKV-erfenisprojekorganiseerder, identifiseer die organisasie landwyd plekke vir erfenisgemeenskapsfeeste. “Feeste is die plek waar talent ontdek word. Ons identifiseer ook die mense wat dit met hul kundigheid kan bestuur en wat platforms hiervoor kan skep. Ons is daar om sulke feeste te fasiliteer en te sorg dat dit volhoubaar is. So ondersoek ons tans die toekoms van die ATKV-rieldanskompetisie, onder meer om te sorg dat die werklike tradisionele riel voortleef.”

Ander aspekte wat aandag kry om verder ont-wikkel te word, is kore (veral ook plaaskore), sangers, musikante, tienertoneel en skryfkuns, asook die optekening van streekstaal, het hy gesê. “Hoe meer ons skep in Afrikaans, hoe beter vir Afrikaans.”

Lemmer het gesê dit is nou Prins Albert se verantwoordelikheid om aan te dui waarheen die organiseerders hier op pad is met hul onderskeie projekte, om dan ’n opvolggesprek met hom en Van Staden te reël en saam die pad vorentoe te bepaal om minstens ’n drie- of vyfjaarplan te ontwikkel.