Die 97-jarige ma van Jeanette Adonis wat gister in ’n werkershuis op die plaas Buffelsdrift doodgebrand het, word deur ’n polisiebeampte ondersteun. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
’N 57-JARIGE vrou wat bedlêend was, Jeanette Adonis, en nie op haar eie kon beweeg nie, het gister in ’n huisbrand op die plaas Buffelsdrift buite Oudtshoorn gesterf.
Die brand het vermoedelik in ’n kamer in die werkershuis waarin Adonis saam met haar familie gewoon het, ontstaan.
Die huis is langs die pad wat by die Oudtshoorn Honde-eenheid verbyloop, geleë.
Daar word vermoed dat ’n brandende sigaret die oorsaak van die brand was.
Die brand is deur werkers met water van ’n watertenkwa wat op die plaas was, geblus nog voordat die brandweer op die toneel opgedaag het.
Adonis se liggaam is deur haar broer deur die kamervenster na buite geneem.
Sy is op die toneel dood verklaar.
Daar is aanvanklik gevrees dat die oorledene se 97-jarige ma ook in die huis was tydens die brand, maar sy is later opgespoor.
Sy was tydens die brand besig om hout bymekaar te maak.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, doen die polisie ’n geregtelike nadoodse ondersoek.