Die Rooimiere verwyder Maandag ’n gesin se besittings uit ’n huis wat onwettig beset is. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE Rooimiere, ’n privaat-maatskappy wat gekontrakteer word om onder andere onwettige besetters uit huise en van persele te verwyder, het Maandagaand ’n gesin se besittings uit ’n nuwe huis in Rosevalley, Oudtshoorn verwyder nadat die gesin Sondag die huis onwettig besit het.
Die Rooimiere is in ’n stadium die aand deur kinders met klippe gegooi. Die kinders het ook met blikke wat brand rondgeloop.
Luidens ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit is die Rooimiere se hulp deur die provinsiale regering ingeroep na gerugte dat mense in Rosevalley huise beset, bande brand en daar oproerigheid in die gemeenskap was.
Dit het gevolg op ’n week van onrus in Rosevalley met inwoners wat ontevrede was toe huise verlede week aan verskeie mense oorhandig is. Hulle het beweer mense ontvang huise wat nie in die gebied bly nie, asook dat familielede van ’n werknemer van die behuisingskema ’n huis ontvang het. Daar is ook gedreig dat van die nuwe huisbewoners deur hulle uitgesit gaan word.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê die munisipaliteit is bewus van drie klagtes teen munisipale amptenare en dat daar wel gevalle was wat familielede van werknemers huise gekry het, maar dat hulle dit gekry het omdat hulle in die Riemvasmaak informele nedersetting gewoon het en hul name op die behuisingslys was. Hy sê die bewering dat mense van elders huise kry, is onwaar. “Slegs inwoners van die Riemvasmaak informele nedersetting word in die huise geplaas.”
Een persoon wat ’n huis moes kry, het intussen werk in George gekry het, en huur bou daar ’n eiendom.
Mangqwengqwe sê daar is altyd oproerigheid wanneer huise aan mense oorhandig word en dat dit waarskynlik gebeur omdat mense bekommerd is dat hulle nie gaan huise kry nie. Die projek maak voorsiening vir die bou van 967 huise.
Volgens Mangqwengqwe sal die Rooimiere in die gebied bly om te help om orde te handhaaf vir solank dit nodig is, waarna sekuriteitsbeamptes by hulle sal oorneem.