By die vergadering Maandagaand oor die Rosebank Biblioteek was van links Deidre Carelse (besturder biblioteke), Thomas Matthee (direkteur gemeenskapsdienste), Oena Huistra (konsultant), Benjamin Meiring en Edwina April (inwoners), Jerome Lambaatjeen (Wyk 6-raadslid), Patrick Carelse (inwoner) en De Villiers Neethling (bourekenaar). Foto verskaf
BOUWERK aan ’n biblioteek in Rosebank, Oudtshoorn sal hopelik in September begin en einde April 2020 voltooi wees, lui ’n persverklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat gister uitgereik is. Die tender vir die biblioteek wat na verwagting sowat R9 miljoen sal kos, sal einde Junie geadverteer word.
Die munisipaliteit het Maandagaand met inwoners van die woongebied vergader om terugvoer te gee oor die vordering met die projek en ook die inwoners by die projek te betrek, sê die wyksraadslid, Jerome Lambaatjeen.
Volgens Thomas Matthee, direkteur gemeenskapsdienste het die Wes-Kaapse Regering R8,5 miljoen vir die bou van die biblioteek bewillig. “Die raad aanvaar die verantwoordelikheid om die biblioteek te bestuur,” sê hy.
Inwoners kon by die vergadering drie inwoners van Wyk 6 verkies om op die projekkomitee vir die biblioteek te dien, en ook die plan van hul keuse uit drie moontlike planne kies.
’n Gemeenskapskakelpersoon sal aangestel word sodra die projek begin.
Die bourekenaar betrokke by die projek, De Villiers Neethling, het inwoners verseker dat al die algemene werkers uit die Wyk 6 sal kom asook ten minste 60% van die vakmanne. Werkers en en subkontrakteurs op die EPWP-databasis sal gebruik word, en inwoners is aangemoedig om seker te maak hul name is op die databasis.