DIE saak teen ’n man van Toekomsrus op Oudtshoorn wat daarvan aangekla word dat hy ’n 23-jarige vrou in haar huis in die sogenaamde Blinkhokke verkrag het nadat hy glo eers die huis se krag afgeskakel het, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn Streekhof vir uitspraak uitgestel.
Cecil Bosman (25) het glo op 25 Augustus 2018 eers die krag afgeskakel en toe deur ’n venster geklim waarna hy die klaer verkrag het.
Hy staan tereg op klagtes van verkragting en huisbraak.
Die vrou het getuig dat sy nie die beskuldigde se gesig of klere kon sien nie omdat dit donker was. Hy het haar op ’n bed vasgedruk en ’n blink voorwerp teen haar keel gedruk. DNS wat op ’n kombers gevind is, het tot Bosman se inhegtenisname gelei.
Bosman ontken dat hy die vrou verkrag het omdat hulle glo gereeld saam tik rook en sy hom toestemming gegee het. Volgens hom het die klaer die venster van binne oopgemaak sodat hy daardeur kon klim. Hy ontken dat hy ’n mes teen haar keel gedruk het.
Die staat vra die hof vir Bosman se skuldigbevinding op albei klagtes en voer aan dat die klaer bevredigend en konsekwent getuig het en haar nie weerspreek het nie.
Sy het die verkragting die oggend na die voorval aan haar grootmaakma gerapporteer.
Bosman se regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, vra egter die hof vir sy vryspraak en het gesê die staat het gefaal om sy skuld te bewys. Die klaer het geweet haar kêrel is uitstedig en daarom vir Bosman na haar huis genooi, het sy gesê.
Die saak word deur streeklanddros Daniel Boks aangehoor en is vir uitspraak uitgestel tot 21 Junie 2022. (Deur Garnett Wicomb)