Verkragter kry 90 jaar tronkstraf

Die 46-jarige Rigard Myburgh van Hartenbos wat op drie aanklagte van verkragting en drie van seksuele aanranding van twee minderjarige seuns skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof 90 jaar tronkstraf opgelê waarvan 20 jaar samelopend uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van 70 jaar.

Myburgh het tussen 2014 en 2019 die twee broers van onder tien jaar by verskeie geleenthede verkrag en seksueel aangerand.

Myburgh was bevriend met die kinders se ma en die dade het meestal in hul huis in Hartenbos plaasgevind. Hy het al die bewerings van die kinders ontken en aangevoer dat hy nie weet waarvan hulle praat nie.

Streeklanddros Sylvia Mandla het Myburg se getuienis as vals verwerp en gesê dat hy leuens in die hof vertel.

Die staatsaanklaer, Anzelle Laubscher, het die hof versoek om nie af te wyk van die voorgeskrewe minimumvonnis van le- wenslange gevangenisstraf nie vanweë die erns van die misdrywe.

“Die beskuldigde was in ’n vertrouensposisie wat hy gruwelik misbruik het en toon geen berou nie. Daar bestaan geen wesenlike en dwingende omstandighede vir die hof om van die minimum-vonnis af te wyk nie,”

“Die beskuldigde is ’n gevaar vir die gemeenskap en moet lewenslank agter tralies bly,” het Laubscher betoog.

Myburgh se regsverteenwoordiger, Johan Crouse, het die hof versoek om sy tydperk in aanhouding asook die feit dat hy ’n eerste oortreder is vir vonnis in aanmerking te neem.

Die landdros het met vonnisoplegging gesê dat hy geen berou toon nie en die kinders se lewens verwoes het.

Hy is vir elk van die drie verkragtingsklagte tot 25 jaar gevonnis en 15 jaar vir die seksuele aanrandings en die hof het gelas dat van die vonnisse samelopend uitgedien kan word vir effektiewe tronkstraf van 70 jaar.

Die hof het ook gelas dat sy naam in die nasionale register vir seksoortreders opgeneem moet word. Ao Alistair Rezart was die ondersoekbeampte in die saak. (Deur Garnett Wicomb)